Lingenfelder, tans musiekdirekteur van die Fugard-teater in Kaapstad, was in gesprek met Natasha Harmse, mede-voorsitter van die Afrikaans-departement se Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS).
Lingenfelder het geskerts dat die film “alles Christiaan Olwagen [Kanarie se regisseur] se skuld is”. Olwagen het glo baie aanklank by die storie gevind en toe gevra of hy Lingenfelder se verhaal in ’n film kan omskep.
“Ek het net vir hom gesê ‘hoe sou dit gewees het as ons as 17/18-jariges so ’n fliek kon gesien het?’. Want ons het nog nooit in ons lewens so iets gesien nie. Ons weet so iets is nog nie in Afrikaans gedoen nie.
“Dit was die groot dryfkrag agter die film,” het hy gesê.
Vir Lingenfelder was dit ook belangrik indien die film gemaak sou word, dit met “warts and al” sou gebeur.
“Ek [was] bereid om myself oop te vlek vir hierdie film en mense gaan op die ou end dinge weet van my wat niemand behoort te weet van my nie,” het hy gesê.
Harmse het onder meer gevra of daar ’n opvolgfilm gaan wees en Lingenfelder se kort antwoord was: “Uhm… Nee.”
Hy het gesê dat hulle “eintlik besig is om te kyk of [hulle] dit in ’n musical kan verander”.
“Daar is geweldig belangstelling en ons is so half gecommission.”
Lingenfelder sê hy en Olwagen het al reeds drie dae deurgesit en gekyk [na moontlikhede].
“Daar is ander stories wat belangriker is om te vertel op hierdie stadium. Ek dink Kanarie is Kanarie en dis klaar,” het hy gesê.
Harmse het ook vir Lingenfelder uitgevra oor die ooreenkomste en verskille tussen hom en Johan Niemand, die hoofkarakter in Kanarie wat deur Schalk Bezuidenhout vertolk is. Daarop het Lingenfelder geantwoord dat hy in die eerste plek “ ’n baie beter sanger as Schalk is”.
Van die ander ooreenkomste sluit in heelwat van die rekwisiete in die film. Baie van die plate, byvoorbeeld, behoort in die regte lewe aan Lingenfelder en kom oorspronklik uit sy jeug.
Lingenfelder het egter ook beklemtoon wat ooreenkomste betref, moet ’n film hier en daar aangepas word vir die formule van ’n film om te werk.
Aletta Simpson, mede-voorsitter van VER[r]AS, sê die idee vir ’n VER[r]AS-gesprek met Lingenfelder het by haar opgekom toe sy hom by ’n gesprek by die NG Kerk Stellenberg ontmoet het. Sy het vir hom dankie gaan sê vir die film en van daar af het sy gedink om hom te nooi “want hy is so ’n interessante mens om na te luister”.“Wat my aanraak van die film én as ek luister na Charl-Johan, is dat dit so ’n persoonlike storie is. Hy vertel op ’n baie brose wyse sy storie, vlek homself oop sodat ons dit kan waardeer en ons self heling vind,” het sy gesê.