Weggesteek tussen glansbladsye wat vingers asvaal laat onder sagte stof, pryk die gesigte van kinders by sportwedstryde, gesinne by pieknieks in die somerson en opgedolliede paartjies wat in mekaar se arms oor die dansvloer gly. Hulle lyk vredevol, gelukkig en onbewus van wat van hulle sou word.
In 1964 het dié gemeenskap hul wonings opgepak en na die buitewyke van Stellenbosch vertrek. Volgens die apartheidswette was hulle “kleurlinge” en hul buurt nou ’n “blanke woongebied”.
Volgens die groepsgebiedewet en gedwonge verskuiwing het die sowat 3 700 bruin inwoners van Die Vlakte asook ses skole, vier kerke, ’n moskee, ’n rolprentteater en tien sakeondernemings geskuif, verduidelik prof. Albert Grundlingh, historikus aan die Universiteit Stellenbosch (US). Oornag is die geskiedenis uitgewis van wat eens as “Die Vlakte” bekendgestaan het, die gebied omgrens deur Mullerstraat, Ryneveldstraat, Banghoekweg, Smutsstraat, Merrimanlaan en Birdstraat.
In die 1880’s was dié gebied slegs ’n oop veld, vandaar die naam. Vir die inwoners wat later daar sou woon, het dit egter eenvoudig as die “dôp” (dorp) bekendgestaan.
Só verduidelik Hilton Biscombe (65), skrywer en samesteller van In ons bloed (2006), een van die min boeke wat Die Vlakte se geskiedenis vasvang. In sy sitkamer in Idasvallei vertel Biscombe hoe hy in wat vandag as Ryneveldt Lodge bekendstaan, grootgeword het. Dit was in dié straat waar hy en sy maats knopperige eikebome vir krieketpaaltjies gebruik het. Hier het byna elke straathoek met ’n kafee gespog, elk met sy eie speciality: Forlee se kafee se reënboog suckers, Habieb se Kafee se melk-suckers, warm grondboontjies van die Hendricks Kafee en Toefie Kafee se warm koesisters met klapper daarop. Die Empire-bioskoop was ’n bekendstelling aan ’n wêreld buite Die Vlakte, waar laaities na Westerns gaan kyk het en as Cowboys and Crooks in die bome baljaar het.
“Die lewe op Die Vlakte was voluit. Elke dag was ’n adventure. There was never a dull moment.”
Hilton se neef Fuad Biscombe (79) en sy vrou, Zuleiga Biscombe (79), het ook hier grootgeword en saam in die ou Hoërskool Lückhoff-gebou skoolgegaan. Fuad Biscombe se barbierswinkel, Arts Barber Shop, word vandag deur sy seun Faizel besit en bestuur.
“Ons het soos een mens grootgeword daar. Die liefde tussen ons het uitgestaan,” vertel Zuleiga Biscombe. Dan sit sy terug in haar stoel, raak vir ’n oomblik stil, frons, en kyk met ’n somber gesig op.
“Ons het gesúffer, maar ons het dit gevat.”
Hilton Biscombe verduidelik dat die kerke en skole as ’n spilpunt vir Die Vlakte gedien het en ’n ruimte was waarin mense van verskillende agtergronde in harmonie kon leef.
In 1969 is Hoërskool Lückhoff egter volgens wet van sy voormalige plek in Banghoekstraat na ’n nuwe gebou in Idasvallei verskuif.
“Daai tyd [as kind] het jy nog nie die interpretive skills gehad as wat jy nou het nie,” verduidelik hy.
“Maar ek kon waarneem daar is iets nie pluis hier nie. People were sad. Hier sien jy ’n lorrie kom en daar laai hy die furniture op en dan het jy gewonder waar gaan die mense.”
Bure het na verskillende “kleurlingwoongebiede” verhuis.
“Die Vlakte was letterlik opgebreek. Ons sukkel nou nog om ons se way te kry. Dit lyk of die mense in Idasvallei gesettle is, we never settled. Mense besef nie dit nie,” probeer Hilton Biscombe verduidelik.
“Die Vlakte was ’n heel ander plek gewees as wat dit nou is. Daai tyd was dit warm. There was movement, all the time.”
Groot gedeeltes van Die Vlakte het in die US se besit beland en die oprigting van die Fakulteit Letterkunde en Sosiale Wetenskappe, waar trotse huise destyds gestaan het, was die laaste spyker in die doodskis.
’n Gees van versoening het egter onlangs oor die area begin sypel. Ná byna 40 jaar in die universiteit se besit, is die ou Hoërskool Lückhoff-gebou in 2007 “simbolies aan die gemeenskap opgedra as ’n gebaar van versoening en transformasie,” vertel die US se eeufeespublikasie.
In 2015 het die US ’n aantal beurse beskikbaar gestel vir die nageslagte van Die Vlakte en in dieselfde jaar is die voorportaal van die Letterkunde en Sosiale Wetenskappe-gebou versier met glasborduitstallings wat die geskiedenis van dié gemeenskap vertel.
Deur transformasie en die neerpenning van staaltjies, poog ’n gemeenskap om ’n geskiedenis te bewaar wat nooit werklik uit die harte van sy inwoners en hul nasate sal verdwyn nie – hulle wat met verlange terugdink aan Die Vlakte.