US-navorsing dui op die gevare van brande in informele nedersettings

Resultate van die wêreld se grootste brandproefneming het uit 20 plakkershutte bestaan. Die proefneming het in November 2018 plaasgevind. Weens die streng Covid-19-regulasies is die resultate van dié proefneming eers onlangs vanjaar bekendgemaak. FOTO: Verskaf/Richard Walls 

Wanneer ’n brand in ’n informele nedersetting versprei, kan dit binne vyf minute 20 plakkershutte vernietig. Dít is volgens die wêreld se grootste brandproefneming wat onlangs deur die Universiteit Stellenbosch (US) onderneem is. 

Dié proefneming is deur die Eenheid vir Brand-ingenieurswesenavorsing (FireSUN) by die departement van siviele ingenieurswese aan die US onderneem in samewerking met die Wes-Kaapse rampbestuur, brand- en reddingsdienste asook die Breedevallei Munisipaliteit.

“Dit vorm deel van ’n groter projek in samewerking met die Universiteit van Edinburgh wat daarop fokus om brande in informele nedersettings te verstaan en om maniere te vind om die uitwerking van sulke brande te verminder,” het prof. Richard Walls, hoofnavorser van FireSUN en bestuurder van die projek, gesê.   

“Die data is gebruik om brandverspreiding te verstaan en die gemiddelde verspreidingstempo daarvan te voorspel,” het Walls aan MatieMedia gesê.

Die resultate het onlangs in Fire Technology, een van die voorste vaktydskrifte oor brandveiligheid verskyn, het Walls gesê. 

Dié proefneming is deur dr. Nico de Koker, Walls se kollega, ontwerp. De Koker het ook die resultate ontleed.

“Die feit dat wonings só naby aanmekaar gebou is, is verreweg die grootste oorsaak vir die vinnige verspreiding van brande,” het De Koker gesê. 

Wind en blootgestelde, vlambare boumateriaal soos hout en karton dra verder by tot die vinnige verspreiding van brande, het hy gesê. 

Volgens Walls sou die intervensies wat in informele nedersettings gebruik word om die verspreiding van ’n brand te onderdruk, in dié proefneming ondoeltreffend gewees het.

Dié brandproefneming het aangedui dat 20 plakkershutte binne vyf minute vernietig kan word wanneer ’n brand in informele nedersettings versprei. FOTO: Verskaf/Richard Walls

“Dit bevestig net wéér waarom brande in informele nedersettings soveel skade aanrig en mense se lewens eis en waarom dit moeilik is om te beheer,” het Wayne Smith, die bestuurder van brandweerdienste en rampbestuur van die Stellenbosch munisipaliteit, gesê.

Volgens Smith is daar meer brande in die wintermaande – maar in die somer is die intensiteit, omvang en skade baie groter as gevolg van die warm, droë en winderige weeromstandighede.

Die gebruik van oop vlamme vir kosmaak weens die gebrek aan elektrisiteit, onwettige kragaansluitings en die oorlading van dié aansluitings veroorsaak die meeste brande in informele nedersettings, het Smith gesê.

“Ons moet die inkoop kry van die gemeenskap en gemeenskaplike en gesamentlike doelwitte stel om hulle te beveilig,” het hy verder gesê.

Die uitkomste van sulke eksperimente en die navorsing moet ’n stap verder geneem word om alle opsigtelike risiko’s te verwyder om sodoende die leefomgewing van dié gemeenskappe te beveilig, het Smith gesê. 

Die wêreld se grootste brandproefneming in ’n informele nedersetting wat uit 20 plakkershutte bestaan het, is uitgevoer op ’n verlate renbaan net buite Worcester, in die Wes-Kaap. VIDEO: Verskaf/Richard Walls