Die Universiteit Stellenbosch (US) Jazzorkes het vroeër vanjaar ’n kykNET Fiësta-toekenning ontvang in die kategorie Beste Musiekgedrewe Produksie -Buitelug.
Die toekenning is ontvang vir hul optrede met legendariese sangers Judith Sephuma, Gloria Bosman en Timothy Moloi tydens die US Woordfees verlede jaar.
Die orkes se dirigent, Felicia Lesch, en twee studente het die orkes verteenwoordig by die jaarlikse Fiësta gala-geleentheid wat Suid-Afrikaanse kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf vereer vir hul werk.
“Ek het nooit gedink die orkes sou ’n Fiësta wen nie. Ek sien die toekenning as ’n simbool vir al die opofferings wat gemaak is om die orkes te begin en vir elke persoon wat deel was daarvan sedert 2009,” sê Lesch.
Portia Holmes (22), ’n derdejaar BA-Musiek student en saksofoonspeler in die orkes, sê dit was een van die wonderlikste ervarings in haar lewe.
“Ek is baie gelukkig om deel te wees van die orkes vir die afgelope drie jaar. Dit was ’n voorreg om ons dirigent te vergesel na die toekenning seremonie in Johannesburg,” sê Holmes.
Die US-Jazzorkes is deel van die sertifikaatprogram wat deur die Departement Musiek aangebied word en bestaan uit hoërskool-leerders en studente van die graad-en sertifikaatprogramme. Die jaarlange program is geskep vir diegene wat nog nie gereed is vir ’n voltydse program nie. Lede van die breër gemeenskap kry dus die geleentheid om meer te leer oor musiek en om ’n musiekinstrument te speel.
Die orkes is in 2009 gestig deur Lesch, ’n dosent aan die departement en hoof van die sertifikaatprogram. Sy het in 2014 ’n Rektorstoekenning daarvoor ontvang.
“Die departement het op daardie stadium net klassieke musiek gehad en baie studente van die sertifikaatprogram was nie bekend daarmee nie. Baie het belangstelling getoon in jazz omdat hulle dit in hul gemeenskappe speel. Ek het dus die orkes begin as ’n manier om dit te erken en te vereer,” sê Lesch.
Die orkes het ook vroeër die maand die Legacy Celebration konsert by die Konservatorium opgedra aan Hugh Masekela en beide Nelson Mandela en die US se eeufees. Tydens die konsert is die departement se nuwe sosialeimpak-inisiatief, Roots@SU, bekendgestel. ’n Boom met wortels is gekies om Roots@SU voor te stel, wat aandui dat die wortels die boom met lewe voed.
“Dit sluit ’n netwerk van programme en projekte in waar by die departement betrokke is. Roots@SU verteenwoordig die verskillende gemeenskappe, veral diegene wat die naaste aan die US is. Ons soek ook jong talent uit hierdie gebiede wat graag wil inskryf vir die verskeie programme wat by die departement aangebied word,” sê Fiona Grayer, artistieke bestuurder van die musiekdepartement.
Die orkes berei nou voor vir die Vrouedagkonsert wat vroue vier deur musiek, kuns en poësie. Die konsert vind die 8ste Augustus plaas by die Konservatorium en word weer die 9de herhaal as ’n liefdadigheidskonsert.
US-Jazzorkes hoogtepunte: