US-ingenieurswese: Afrika se pioniers in die stryd teen brande

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal  binnekort die eerste nagraadse program in brandingenieurswese in Afrika ontwikkel.

Foto 1

Die Universiteit Stellenbosch sal binnekort die eerste tersiêre onderwysinstelling in Afrika wees om nagraadse programme in brandingenieurswese aan te bied. FOTO: Arleen Stone

Dit is moontlik gemaak deur ’n R2.9 miljoen skenking deur die Lloyd’s Register Foundation, ʼn Britse liefdadigheidsorganisasie vir die ondersteuning van onderwys en ingenieursverwante navorsing.

Met hierdie fondse sal US se Eenheid vir Brand-ingenieurswesenavorsing (FireSUN) die MIng- en PhD-grade in brandveiligheidsingenieurswese en strukturele brandingenieurswese ontwerp wat twee nuwe modules, branddinamiek en strukturele ontwerp vir brandveiligheid, in 2019 en 2020 sal aanbied tesame met bestaande siviele en meganiese ingenieurswesemodules.

https://www.canva.com/design/DADC-H9NpLw/view

“Navorsing en onderrig oor brandingenieurswese is duur, dog noodsaaklik vir ons land. Sonder die Lloyd’s-stigting se hulp sou ons nie volgende jaar die nagraadse program kon bekend stel nie,” sê Dr Randall Walls, hoof van FireSUN.

Foto-2.jpg

Dr Randall Walls, die hoof van FireSUN, in sy kantoor waar hy homself beywer aan die bestudering van brandingenieurswese. FOTO: Arleen Stone

Volgens Walls is Suid-Afrika een van die lande wat die hoogste brandverwante sterftesyfers per kop in die wêreld het, waarvan meeste van hierdie sterftes in informele nedersettings voorkom. Onlangse brande wat Suid-Afrika geruk het, sluit in Imizamo Yethu, naby Houtbaai, en Knysna.

Stefan Löffel (22), ’n meestersstudent in brandingenieurswese, sê die kursus en gevolglike navorsing is belangrik vir alle tipes strukture in die land.

“Daar is ’n dringende nood om die probleem van brandveiligheid in Suid-Afrika, veral in informele nedersettings, aan te spreek, maar ook in hoë geboue, wat onlangs weer onder die publiek se aandag gebring is deur die gebou wat in Johannesburg afgebrand het waarin drie brandbestryders hulle lewe verloor het.”

Die gebou het slegs aan 21% van veiligheidstandaarde vir brande voldoen terwyl die minimum 85% moet wees vir die gebou om bewoon te word.

FireSUN en lede van RADAR, die US se Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering, het reeds verskeie projekte aangepak om die stryd vir brandveiligheid.

Foto 3

Een van die verskeie projekte wat FireSUN uitvoer om die gedrag van vuur in informele nedersetting-gehuggies te toets. FOTO: Verskaf

Patricia Zweig, projekkoördineerder vir risiko-vermindering by RADAR, sê dit is belangrik om na brande in informele nedersettings te kyk, omdat meer en meer brande plaasvind soos die aantal inwoners van informele nedersettings toeneem.

Sy meen mense het in die verlede slegs op brande gereageer deur dit te blus, maar moet in die toekoms daarna kyk om dit vroegtydig te voorkom.

Foto 4

Navorsing aan die US se FireSUN- en RADAR-navorsingseenhede ondersoek die sukses van waarskuwingsisteme soos brandalarms in die voorkoming van wegholbrande in informele nedersettings. FOTO: Verskaf

Nico de Koker, ’n navorser aan die FireSUN-span, meen vuur is een van die grootste risiko’s vir lewe en eiendom.

“Die beste manier om risiko’s te bestuur is om ons infrastruktuur en reaksiesisteme met ’n begrip van vuurgedrag te ontwerp.”

Daarom sal groot dele van die nuwe kursusse daaraan gewy word om ingenieurs op te lei om strukture te ontwerp wat beter teen vuur sal vaar.

https://www.canva.com/design/DADDJeUCmDg/view

Volgens Löffel was dit maklik om strukture in die verlede te ontwerp sonder ’n brandveiligheidsertifikaat.

“Met die Grenfell-brande in London het mense weer besef hoe belangrik dit is om brandbestande strukture te ontwerp en hoe om mense veilig te ontruim.”

Volgens Jaleel Claasen (25), ’n meesterstudent in brandingenieurswese, is die skrif aan die muur.

“Met die aantal ongewenste strukturele brande in die afgelope twee dekades, die verlies van lewe en miljarde in eiendomskade, maak dit net sin om ’n beter begrip van die probleem te kry en met beter, veiliger maniere van strukturele ontwerp vorendag te kom.”

 

,