US-gryswaterprojek ontvang internasionale erkenning

Die Universiteit Stellenbosch (US) se volhoubare gryswater-optimaliseringsprojek het internasionale erkenning ontvang by die 2020 International Sustainable Campus Network (ISCN) se virtuele toekenningsgeleentheid.

Dít nadat die US op 14 Mei aangewys is as die naaswenner in die Whole Systems Approach-kategorie.

“Ons is die eerste universiteit in Suid-Afrika wat op só ’n groot skaal ’n kampuswye gryswater-optimaliseringsprojek onderneem het,” het Nicolette van den Eijkel, hoofdirekteur by die afdeling van fasiliteitsbestuur aan die US, gesê.

Die universiteit het aan die einde van 2019 as ’n lid by die forum aangesluit, het Van den Eijkel gesê.

“Die ISCN-toekennings vind jaarliks plaas en vereer uitstaande volhoubare projekte op universiteitskampusse regoor die wêreld,” het Petro Mostert, kommunikasiespesialis aan die US, gesê.

Volgens Mostert bied die ISCN ’n internasionale forum waar hoëronderwysinstellings ondersteun word om volhoubare kampusbedrywighede te bewerkstellig én om volhoubaarheid in navorsing en onderrig te integreer.

Nadeem Gafieldien (links) en John de Wet (regs) buite die Universiteit Stellenbosch se fasiliteitsbestuur-gebou. FOTO: Verskaf/Petro Mostert. internasionale erkenning

Nadeem Gafieldien (links) en John de Wet (regs) buite die Universiteit Stellenbosch se fasiliteitsbestuur-gebou. FOTO: Verskaf/Petro Mostert.

 

Die projek, wat in 2014 begin is, se eerste fase is in die koshuise op Stellenbosch geïmplimenteer, het John de Wet, bestuurder van omgewingsvolhoubaarheid aan die US se eiendomsdienste, gesê.

“Die universiteit se outomatiese gryswaterstelsel versamel stortwater vanaf die koshuise. Dit pomp die water na ’n sentrale filtreringsaanleg, behandel dit en pomp die water weer terug na die koshuisgebou, waar dit vir spoeltoilette gebruik word,” het De Wet aan MatieMedia gesê.

Volgens De Wet het hulle ook waterbesparende stortkoppe en -krane in koshuise geïnstalleer.

John de Wet en Nadeem Gafieldien vertel hoe die projek gerealiseer het en wat nog verder beplan word. INFOGRAFIKA: Carl Thomas. Internasionale erkenning

John de Wet en Nadeem Gafieldien vertel hoe die projek gerealiseer het en wat nog verder beplan word. INFOGRAFIKA: Carl Thomas.

Die universiteit is baie trots op die vordering van dié projek, het Nadeem Gafieldien, direkteur van eiendomsdienste by die afdeling fasiliteitsbestuur aan die US, gesê.

“Sedert die implimentering van fase een is daar al ’n 50% afname in die verbruik van munisipale drinkwater, asook ’n 50% afname in die verbruik van besproeiingswater regoor die kampus,” het Gafieldien gesê.

Dit is fantasties om erkenning vanaf die ISCN te ontvang, het De Wet gesê.

“As ’n span, het die US hard gewerk om al die insiatiewe van stapel te stuur. Water is ’n skaars hulpbron en dit is ons mikpunt om waterverbruik deur die universiteit te verlaag,” het De Wet gesê.

, , ,