Die Gemsbok: Upington se “mondstuk”

Die Gemsbok, wat weekliks op Woensdae in die strate van Upington en ’n aantal omliggende dorpe versprei word, is ’n gunsteling onder dié gemeenskap. Só sê Elsa Jones, redakteur van die Gemsbok.

Die Gemsbok, wat voorheen as Gordonia News bekend gestaan het, vorm deel van die Caxton-groep en word deur die Noordwes-koerantgroep versprei. Dié gemeenskapskoerant is aanvanklik in 1929 in Upington op die been gebring.

“Die Gemsbok het ’n baie groot verspreidingsgebied wat hoofdorpe soos Upington, Kakamas, Calvinia, Springbok en Kuruman insluit,” het Jones aan MatieMedia gesê. 

Die span by die Gemsbok moes weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie ’n balans vind tussen die dekking van harde nuus en menslike belange, volgens Marina Scheepers, verslaggewer by dié gemeenskapskoerant in Upington. “Ons lesers is uitgehonger vir stories van hoop, en dit het gemaak dat harde nuus en menslike belange nou kop aan kop meeding,” het sy gesê. “Die ‘if it bleeds, it leads’ is nie meer ’n waterdigte resep nie.” FOTO: Verskaf/Marina Scheepers

Sink of swem

Vir Marina Scheepers, reeds sestien jaar ’n redaksielid by die Gemsbok, was dit sedert die aanvang van die grendelstaat in Maart verlede jaar, ’n groot uitdaging om nuusstories te vind.

“Covid-19 het ons van ons gemeenskappe afgesny,” het sy gesê. “Alles gebeur nou basies agter ’n rekenaarskerm.” 

Weens die gebrek aan interaksie met die gemeenskap, is dit nou moeiliker om juis die gemeenskappe se vertroue te behou, meen Scheepers. Die Gemsbok-span maak dus nou staat op verhoudings wat hulle oor die jare met gemeenskapsleiers en ander rolspelers gebou het, het sy gesê. 

Die redaksionele span by die koerant bestaan tans uit Jones en Scheepers.

“Ek was vir die afgelope 16 jaar altyd deel van ’n span van ten minste drie redaksionele lede,” het Scheepers gesê. “As jy vir ’n gemeenskapskoerant op die platteland werk, doen jy nooit net een werk nie.”

Die koerant word egter reeds vir die afgelope drie jaar slegs deur Jones en Scheepers bestuur en saamgestel. “Ons het aanvanklik ’n joernalis gehad wat meestal gekonsentreer het op skole- en sportnuus, terwyl ek ondersoekende, misdaad- en hofverslaggewing gedoen het,” het Scheepers gesê. Vandag word dié verantwoordelikhede deur haar en Jones gedeel, het sy gesê.

Sedert die begin van die grendelstaat, is die Gemsbok se weeklikse drukoplaag van 9 000 koerante verminder na die huidige 7 200, volgens Jones. 

Hoewel die Gemsbok vir die afgelope vyf jaar reeds aanlyn beskikbaar is, is dit sedert die uitbreking van pandemie ook gratis op dié platform beskikbaar gestel, het Jones gesê. Die Gemsbok bereik volgens Jones tans ’n weeklikse aanlyn leserskap van tussen 5 500 en 8 500. 

Met die aantal lesers per huis in ag geneem, beraam die Gemsbok-span dat die koerant se totale weeklikse leserskap sowat 30 100 is, het Jones gesê. Die koerant word weekliks deur omtrent drie mense per huishouding gelees, het sy bygevoeg.

Upington: Koerantverkopers staan elke Woensdagoggend by Upington se verkeersligte om die Gemsbok te verkoop. FOTO: Facebook/Gemsbok

Die koerant se hoofbron van inkomste is advertensies, maar word ook gedeeltelik gesteun deur verkope, volgens Jones. Om adverteerders te behou, het die Gemsbok-span die pryse waarteen hulle advertensies verkoop, onveranderd gehou oor die grendeltyd en afslag op sekere plasings gebied, het Jones gesê. “Advertensies kos nou in 2021 dieselfde as wat dit in 2019 gekos het,” het sy gesê.  Gekleurde plasings word teen R71,31 per kolom verkoop, terwyl swart en wit plasings van dieselfde grootte R47,67 beloop, het Jones gesê.

Die koerant word ook vir die afgelope ses jaar teen R4 elk verkoop, het sy bygevoeg. 

Die Gemsbok bereik weekliks ongeveer 30 100 lesers in 24 dorpe regoor die Noord-Kaap, volgens Elsa Jones, redakteur van dié koerant. FOTO: Skermgreep/Google Maps

“Die koerant is die mondstuk van die area, dit is inklusief en ’n betroubare bron van inligting, en dit laat jou deel voel van die gemeenskap,” het Ansefie van Rooyen, ’n Gemsbok-leser, gesê.  

Die Gemsbok is sedert die begin van die grendelstaat ook gratis aanlyn beskikbaar gestel, het Marina Scheepers, verslaggewer by dié koerant, gesê. FOTO: Skermgreep/Gemsbok

, ,