’n Gemeenskapskoerant in die Noord-Kaap, Die Noordwester, het die Groot Griep in 1918 oorleef en sal ook nie deur die voortslepende Covid-19-pandemie gekniehalter word nie.
Die Noordwester, wat in 1917 op die been gebring is, is ’n gemeenskapskoerant in Calvinia wat weekliks nuus uit elf dorpe in die Noord-Kaap dek, het Frans Hugo, redakteur van dié koerant, gesê.
Frans Hugo, redakteur en mede-eienaar van Die Noordwester, reis weekliks 1 200 km na Prieska, Victoria-Wes, Loxton en Vosburg om dié koerant af te lewer. FOTO: Netwerk24/Natalie Gabriels
Sowat 1 300 kopieë van die koerant word weekliks op Donderdae gedruk, het Frans gesê. Hy versprei op Vrydae 500 van hierdie kopieë in Calvinia en omliggende dorpe soos Prieska, Williston, Carnarvon, Victoria-Wes, Loxton en Vosburg. Verder, verduidelik Frans, word 80 kopieë na Sutherland, Fraserburg, Loeriesfontein en Nieuwoudtville gepos. Die res word na intekenaars in die Hantamstreek en Karoo Hoogland gepos, volgens Frans.
Verlede jaar was egter ’n “donker tyd” waarvan die koerant steeds herstel, het Frans gesê.
“Dit was nou vir ons ’n helse gatslag,” het hy gesê. “Ons het vir ’n jaar lank slegs 50% tot 60% van ons normale omset gehad.”
Frans en sy vrou, Maxie Hugo, besit drie publikasies, insluitend die Die Noordwester, Oewernuus en The Messenger, wat weekliks by hul drukpers op hul perseel in Calvinia gedruk word.
Al die koerante word by die Die Noordwester se kantoor in Calvinia gevou ná dit gedruk word. FOTO: Carla Visagie
Die Noordwester se deure is verlede jaar vanaf 27 Maart tot 1 Mei, gedurende die begin van die vlak-vyf-grendelstaat, gesluit, het Frans gesê. Dit was ’n “gebedsaak” om stories tydens die strenger vlakke van die grendelstaat te vind, meen hy.
“Die korrespondente het maar gesê ‘hier gaan niks aan nie’,” het Frans gesê. “Die skole was toe en die sport tot niet. Ons het maar oor politieke partye en nasionale netbal berig.”
’n Belangrike kwessie wat wel gedurende verlede jaar se strenger grendelstaatvlakke in Die Noordwester gedek is, is die waterkrisis wat Calvinia getref het. In ’n storie van Mei verlede jaar, het hulle byvoorbeeld berig dat die dorp net in die aande water gekry het. Kwessies wat met die pandemie verband hou, soos die impak daarvan op die dorp, is ook volgens Frans gedurende dié tyd in die koerant gedek.
Gedrukte koerante hier om te bly
Die Hugo’s se koerante is slegs in die gedrukte formaat beskikbaar, het Elize Perrin, ’n verslaggewer by The Messenger, gesê. Perrin is onseker of dié publikasies aanlyn sal werk omdat lesers in die gebiede waar die koerante verprei word, nie noodwendig kan bekostig om nuus aanlyn te lees nie.
Die Noordwester sal nie gou ’n aanlyn formaat aanneem nie, want dit is nie winsgewend nie, meen Frans. “Hoe kry jy geld uit skurke wat op selfone sit en lees en niks betaal nie?” het hy gevra.
Die waarde van gemeenskapskoerante
Die waarde van die Hugo’s se koerante lê daarin dat die geskiedenis van die dorpe wat daarin gedek word, ook sodoende daarin opgeteken word, meen Perron.
“Jy kan goeters oor die dorp [in die koerantargiewe] uitvind wat jy nooit andersins sou kry nie,” het Perrin gesê. “Niemand gaan hom mos nou steur om iets van Victoria-Wes op te teken in nasionale argiewe nie.”
Die Noordwester het ook ’n belangrike rol daarin gespeel om oud-leerders van Laerskool Calvinia in te lig oor hul alma mater, het Elize Engelbrecht, voormalige skoolhoof van dié skool, gesê.
Vir Frans is die vooruitsig om elke week ’n “splinternuwe ding” te skep, een van die dinge wat dit die moeite werd maak om aan te hou in die gedrukte mediabedryf. “En dan is daar sowaar nog ’n klomp blêrrie fools wat die ding koop ook – ongelooflik,” het hy gesê.
Domlin Bailey (regs) en Hannes Sass (links) werk met die drukpers by Die Noordwester in Calvinia. Volgens Frans Hugo, redakteur en mede-eienaar van dié gemeenskapskoerant, beskik hulle oor al die nodige gereedskap en kennis om die drukpers self te herstel as iets sou skeefloop. FOTO: Carla Visagie