Suid-Afrikaanse teaterbedryf – g’n paradys

IMG_5086-2

Rekwesiete op die verhoog van Wag, wat?, FOTO: Anke Nothnagel

’n Gebrek aan genoegsame befondsing is ’n kenmerkende uitdaging wat Suid-Afrikaanse akteurs gereeld in die gesig moet staar. Die produksie Wag, wat?, wat vir die eerste keer op 7 Maart op die planke by die Toyota US Woordfees 2020 verskyn het, spreek die prominente temas van onderdrukking, herhaling en die soeke na meer in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf aan.

Skrywer-regisseur en aktrise van die produksie, Carla Smith, meen dat die kunste rondom die begeertes van die gehoor georkestreer word weens die gebrek aan befondsing. 

“Ek dink glad nie die play – waar hy nou is – is klaar nie. Ek is nie heeltemal tevrede met hoe hy op hierdie oomblik sit nie. ’n Mens kry so min geld en moet probeer om geld te bespaar. Ek kon nooit regtig ’n buite-oog vir die produksie word nie,” het Smith, wat die rol van Eva vertolk, gesê.  

Dié komedie sentreer rondom die karakters van Adam, gespeel deur Wian Taljaard, en Eva wat die ewigheid saam deurbring in ’n hiernamaals. Sowat 6 000 jaar nadat Eva ’n hap van die verbode vrug gevat het, word sy steeds vir die sondeval verantwoordelik gehou. Adam, daarenteen, het in die toneelstuk die vrypas en mag die heeltyd reïnkarneer terwyl Eva moet agterbly.

IMG_2401 Suid-Afrikaanse

Carla Smith en Wian Taljaard tydens die opvoering van Wag, wat?, FOTO: Anke Nothnagel

“Die stuk fokus op ’n persoon wat wil groei en meer wil doen, maar hulle word ingeperk en stagneer. Net soos Eva wat konstant kennis wil opdoen, wil jy as kunstenaar ook leer en groei, maar jy moet só baie balle in die lug hou. Dit is nie finansieel moontlik om net ’n akteur te wees nie – veral nie nét ‘n Afrikaanssprekende een nie,” het Smith verder gesê.  

Baie kunstenaars het al vantevore klem gelê op die frustrasies rondom finansiële druk in die bedryf.

Volgens die South African Guild of Actors (SAGA) organisasie het produksiebegrotings byvoorbeeld oor die afgelope paar jaar agteruit gegaan. “Befondsing is van kardinale belang. Die gebrek aan finansiering belemmer nie net die industrie se kreatiewe impuls nie, maar ook die produktiwiteit en potensiaal van die industrie,” het die uitvoerende voorsitter van SAGA, Jack Devnarain, aan MatieMedia gesê. 

 

,