Van virtuele musiekvertonings, tot ’n koffie-en-koek-inrydiens en pizza-aflewerings. Daar is ’n paar Stellenbosse kuierplekke wat slim planne maak om steeds onder die nasionale inperkingsregulasies waarde vir die gemeenskap te bied.
Bohemia bring rockmusiek na studente se slimfone
Die gewilde kuierplek Bohemia, het vroeër in Junie ’n regstreekse vertoning deur Jo Martin op Instagram aangebied.
“Ons het nog altyd gratis vertonings gehad, so ons voel dis net reg om dit in hierdie tyd ook vir mense aan te bied. ’n Jo Martin show op ’n Dinsdagaand is half ’n ikoniese ding. Ons is [gewoonlik] elke Dinsdag vol – die studente is mal oor hom,” het Pierre Rommelaere, bemarker en geleentheidskoördineerder by Bohemia, gesê.
Martin het in sy gewone 21:00-tydgleuf ’n blues- en rockmusiek-vertoning vanuit sy studeerkamer na aanhangers se slimfone gestroom.
“Musiek is kragtig. Dis ’n goeie manier om uit te reik en te sê ‘hey’, die musiek gaan aan. Ek hoop julle is oukei’,” het Martin aan MatieMedia gesê.
The Meeting Place bring koffie en koek na jou motor toe
Die Dorpstraat-kuierplek, The Meeting Place, het op sy beurt ’n inry-diens ingestel, sodat kliënte nie hul motors hoef te verlaat om hul wegneem-koffie, -koek, of -crossaints te ontvang nie.
“Die weer het erg begin draai in die tyd toe ons net take-aways kon doen. Omdat niemand anders in die dorp so iets doen nie, het ons besluit om dit vir een dag uit te probeer om te kyk of dit genoeg mense lok,” het Willus Bosch, mede-eienaar van The Meeting Place gesê.
“Van toe af werk dit toe so lekker dat ons besluit het om die inry te hou tot als terug na normaal toe gaan,” het Bosch gesê.
The Meeting Place is tans ook oop vir buitelug-aansitmaaltye gedurende die dag. Dit sal eers weer in die aande oop wees wanneer die meeste studente na Stellenbosch teruggekeer het, en dié kuierplek “vir hulle ’n lekker vibe kan gee,” het Bosch gesê.
Aandklas lewer nou pizzas af
Die kroeg Aandklas Stellenbosch funksioneer tans as ’n wegneem-pizza-restaurant terwyl die perseel opgeknap word.
“Dis definitief taf, maar ons gaan verseker nie ons deure toe maak nie,” het Stephan Lubbe, mede-eienaar van Aandklas Stellenbosch, gesê.
Volgens Lubbe, word daar al lank vir die opknapping beplan, en het die inperking die ideale geleentheid gebied om met die konstruksiewerk te begin.
“Ons het hierdie hele winkel uitmekaar geruk, en van voor af aanmekaar gesit,” het Lubbe gesê.
Aandklas Stellenbosch sal van Vrydag, 3 Julie, af weer oop wees vir aansit-etes, alhoewel daar steeds geen alkohol verkoop kan word nie.