Op ’n wintersaand in Julie 1940 het ’n groep studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) ’n daad so aaklig gepleeg dat dit tot vandag toe met pyn herroep word: Die Slag van Andringastraat.
Dié groep wit studente was betrokke in ’n bakleiery met bruin inwoners van Stellenbosch naby die hoek van Andringa- en Pleinstraat. In sy boek Nog altyd hier gewees: Die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap (2007), vertel Herman Giliomee dat die geveg oënskynlik ontstaan het in afwagting van die Cape Argus wat laataand afgelewer is.
Die bakleiery het vinnig in ’n klipgooiery ontaard. In Hilton Biscombe se boek, In ons bloed (2006), haal hy vir Alfred Williams aan, wat die chaotiese stryd beleef het.
“Daar is klippe gegooi en baie van die studente het seergekry. Die mense in Andringastraat […] was die slegste daaraan toe, want die studente het sommer in hul huise met stokke gekom en almal voor die hand bygekom.”
Bloed het taamlik gevloei soos inwoners grusame tonele van ’n mini-rasseoorlog beleef het. Nóg ’n getuienis in In ons bloed, Beatie Lawrence, vertel hoe hierdie gebeurtenis ’n donker nalatenskap in die dorp gelaat het.
“Die Vlakte was ná hierdie insident nie meer dieselfde nie. Verhoudinge is versuur en jy sou agterdogtig in die dorp deur die witman dopgehou word.”
Die Dempers Meyers Mentorskapprogram is formeel in 2016 deur Christoff Odendaal en Earl Coleman, huiskomiteelede van Wilgenhof en Dagbreek manskoshuise, gestig. Dit dien as ’n platform vir versoening en interaksie tussen die histories-verdeelde gemeenskappe van bruin Stellenbosch-inwoners en die US deur die ontwikkeling van minderbevoorregte leerders van Hoërskool Lückhoff.
Volgens Odendaal was die Slag van Andringastraat ’n belangrike gebeurtenis wat die rasse-konflik in Stellenbosch tussen die universiteit en die inwoners van Die Vlakte jare lank sou omskryf.
Dié program is vernoem na Dempers Meyers, ’n Dagbreker wie ’n soortgelyke inisiatief in 2011 begin het. Die herlewing van Meyers se droom het plaasgevind met die 75ste herdenkingsjaar van die Slag van Andringastraat in Julie 2015. Dis waarskynlik dat studente van Wilgenhof en Dagbreek betrokke was by die stryd.
VIDEO: Matiesstudente herdenk die Slag van Andringastraat. BRON: Youtube/SABC
Prof. Albert Grundlingh, historikus aan die US skryf in ’n artikel op die US-webwerf , dat Hoërskool Lückhoff voorheen die trots van die Stellenbosse bruin gemeenskap was met ’n goeie reputasie en toegewyde onderwysers. Leerders het selfs van die destydse Suidwes-Afrika (tans Namibië) gereis om die skool by te woon.
Dié skool het noue bande met die geskiedenis van Die Vlakte en die gedwonge verskuiwings van die 1960’s. Hieronder moes bruin- en Indiër gesinne verskuif na die buitekant van die dorp na Idasvallei, Cloetesville en Jamestown. Die US het in ’n simboliese teken van versoening, die destydse skoolgebou in 2007 terug aan die Stellenbosse bruin gemeenskap besorg. Dit volg nadat die gebou in die hande van die US groot spanning veroorsaak het.
Daarbenewens het Pieter Nel, primarius van Dagbreek in 2012, namens sy koshuis in ’n verklaring verskoning gevra vir hul betrokkenheid in die Slag van Andringastraat.
“Ons (Dagbreek) aanvaar verantwoordelikheid vir die gebeure van die verlede en ons betrokkenheid daarin deur verskoning te vra namens hierdie instansie vir ons ongehoorsaamheid en liefdeloosheid wat tot ons aksies bygedra het,” het Nel volgens Die Burger gesê .
Volgens Odendaal was daar groot ontevredenheid met Dagbreek se verskoning op daardie tydstip. “Die wit studente het nou gesê ‘Ag waarvoor sê julle nou jammer? Apartheid is lankal verby!.’ ‘Dagbreek sê jammer’ was ‘n groot joke gewees op kampus. Mense in Dagbreek was baie kwaad vir die ou,” het Odendaal vertel.
Sedertdien het die Dempers Meyers-mentorskapprogram uitgebrei met Minerva- en Heemstede-vrouekoshuise, wat in samewerking met Dagbreek en Wilgenhof 20 graad-11 leerders van Hoërskool Lückhoff mentor. Groepsaktiwteite sluit in vaardigheidsontwikkeling soos debat- en tydsbestuurwerkswinkels. Daarbenewens bied die mentors ondersteuning aan hul ‘mentees’ rakende akademiese en sosiale ontwikkeling.
Met ’n matriekslaagsyfer van 58,4% in 2017, is Hoërskool Lückhoff ’n skadu van haar ou self. Shirene Barends, graad 11-graadhoof meen dat dit vasberadenheid van verskeie rolspelers verg om Hoërskool Lückhoff se potensieel te ontwikkel.
“My droom is dat alle rolspelers by die skool; die WKOD, ouers, kinders en onderwysers hul verantwoordelikhede moet weet en dit nakom.”