Spermskenking: Jou gamete is goud werd

Alhoewel heelwat studente hulle swemmers in sakgeld omsit, bly spermskenking ’n relatiewe ongewilde aktiwiteit. Manlike studente is nie altyd bewus van die verskil wat hulle in ander se lewens kan maak en die groot verskil wat dit aan hulle beursies kan maak nie.

Deur sperm te skenk, word gesinne of individue gehelp wat andersins nie ouers sal kan word nie. FOTO: SZ Minnaar

Deur sperm te skenk, word gesinne of individue gehelp wat andersins nie ouers sal kan word nie. FOTO: SZ Minnaar

Daar is ’n groot tekort aan spermskenkers in Suid-Afrika en oor die wêreld. Dr. Thabo Matsaseng, hoof van die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir reproduktiewe geneeskunde, sê daar is “altyd ’n tekort aan spermskenkers”. Die rede vir die tekort, voer hy aan, is onder meer ’n tekort aan aansporings om te skenk en moontlik ’n tekort aan bewusmaking.

Finansiële vergoeding is een manier om mans te kry om hulle witgoud te skenk. ’n Spermskenker mag volgens wet nie direk vir sy sperm betaal word nie, maar hy kan vergoed word vir sy tyd, moeite en vervoerkostes.

Skenkers in Stellenbosch kan ’n vergoedingspakket van ongeveer R6 000 verwag indien hulle ’n  voldoende hoeveelheid spermmonsters skenk.

Maar om sperm te skenk, is veel meer as kontant in die hand. “Dis nie ’n geldmaakbesigheid nie,” sê Lizanne van Waart, ’n sielkundige by die Wijnland-fertiliteitskliniek. Sy sê die meeste studente wil sperm skenk omdat hulle geroepe voel om ’n verskil te maak. “Dit is ongerieflik vir die ouens om te kom skenk. Dit sit nogal jou lewe op hold. Jy moet dit regtig wil doen.”

Meeste studente is nie bewus dat hulle kwalifiseer om sperm te skenk nie. FOTO: Anke van der Merwe

Meeste studente is nie bewus dat hulle kwalifiseer om sperm te skenk nie. FOTO: Anke van der Merwe

Die sperm wat geskenk word, word deur gesinne of individue gebruik wat andersins nie ouers sal kan word nie. Heteroseksuele paartjies waar die man se sperm gebrekkig is, lesbiese paartjies of vroue wat enkelouers wil word, is almal van spermskenkings afhanklik.

Rynhardt van Blerk (26), ’n oud-Matie, het as 19-jarige student sperm geskenk. Hy het by vriende daarvan gehoor en gedink dit sal goed wees om betrokke te raak. “Waarom ek dit gedoen het, is 100% om finansiële redes. Dit was baie geld vir skynbaar min werk. Vir ’n negentienjarige is dit natuurlik baie aanloklik,” sê hy.

Maar hy was nie net vir sy eie hande-arbeid vergoed nie. Skenkers wat ander skenkers verwys, word ook daarvoor vergoed. “As jy iemand verwys het, het jy [’n sekere bedrag] gekry, so obviously het ons almal gekry om draad te gaan trek in ’n koppie.”

Skenkers moet ongeveer twee keer per week vir ’n paar weke gaan skenk om voldoende voorraad op te bou. Voor elke sessie word daar van die skenker verwag om vir twee of drie dae nie te ejakuleer nie. Van Blerk meen dat dit vir ’n jong student op Stellenbosch nogal moeilik kan wees. “Jy kan net een keer per week miskien seks hê. Dis moeiliker as wat jy dink dit is,” meen hy.

Nog ’n oud-Matie wat as student sperm geskenk het, maar wie verkies om anoniem te bly, beweer dit was nie vir hom te moeilik om seks op te gee nie. “Ek was ’n ingenieurstudent, so ek was nie baie aktief nie,” sê hy en voeg by: “Ek sal dit once weer doen.”

Van Blerk dink vandag anders oor spermskenking as toe hy ’n student was en sien nie noodwendig kans om weer te skenk nie. “[Spermskenking] is vir my iets wat in retrospek problematies is. Ons behoort eintlik kinders aan te neem in plaas van nuwe kinders te maak,” sê hy.