Siwendu lewer boeiende persoonlike verhaal by US Afrika-dag vieringe

Op Donderdag 30 Mei het die Universiteit Stellenbosch (US) die tweede jaarlikse Afrika-dag lesing aangebied by die US Museum. Afrika-dag word jaarliks op 25 Mei gevier as die dag waarop die Afrika Unie (AU) gestig is. Prof Wim de Villiers, visekanselier van die US en gasheer van die lesing het gesê dat hierdie jaar se lesing geskuif is vanaf 25 na 30 Mei sodat dit nie met die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa sou bots nie. Die lesing is in 2018 begin deur Prof Pumla Gobodo-Madikizela wat tans die navorsingsstoel vir historiese trauma en transformasie aan die US beklee.  Die lesing is ook bygewoon deur Prof Thuli Madonsela, wat die navorsingsstoel vir sosiale geregtigheid by die US se fakulteit regsgeleerdheid beklee en wie ook ’n goeie vriendin van gasspreker Thina Siwendu is.

IMG_20190530_204513

Prof Pumla Gobodo-Madikizela, Regter Thina Siwendu en Prof Wim de Villiers by die US Museum. FOTO: Universiteit Stellenbosch

Regter Thina Siwendu is ’n regter in die Gautengse hooggeregshof en het meer as 20 jaar ervaring in die regsprofessie. Siwendu het ’n boeiende en intieme lesing voorgehou, getiteld A Mother’s Reflection on Suicide Loss in Post-Apartheid South Africa. Siwendu se seun, Yivani (21) het in Julie 2018 sy eie lewe geneem na ’n lang stryd teen depressie.

Sedertdien het Siwendu ’n kampvegter vir die bewusmaking van psigiese siektes geword en ook die Yivani Mbali-Stigting begin ter herdenking van die lewe van haar seun. Siwendu het in haar lesing gesê dat die beeld van haar seun wat sy eie lewe geneem het haar nooit sal ontgaan nie.

DSC_0029

Regter Siwendu het persoonlike oordenkings gedeel tydens die lesing. FOTO: Roxanne Mooneys

“Sommige mense sal vra waarom sal ’n regter van die hooggeregshof dit op haar neem om ons te wil opvoed oor so ’n somber en moeilike onderwerp soos geestesgesondheid. Yivani se dood het dwarsoor die wêreld weergalm, en met sy begrafnis by Hilton College [in Kwazulu-Natal] het ek gevoel dat hierdie dag van wanhoop oor baie meer as net dit gaan. Hoe kan so ’n belese, gesellige mens vir wie als in die lewe reg verloop het, als net so skielik beëindig?”

Siwendu het ook gesê dat mense geleer word om bang te wees vir die dood, en selfmoord is ’n ingewikkelde onderwerp wat baie verwarring, pyn en verwyte na laat.

Prof Lizette Rabe, dosent in joernalistiek aan die US, wie ook haar seun in soortgelyke omstandighede as Siwendu verloor het, het Siwendu geloof vir haar dapperheid om oor die verlies van haar seun te praat in ’n openbare omgewing.

DSC_0039

Regter Thina Siwendu in gesprek met Prof Lizette Rabe tydens die US se Afrika-dag lesing. FOTO: Roxanne Mooneys.

“Vandag sou 23 Suid-Afrikaners hul lewe verloor het deur selfmoord, en tussen 250 en 400 het pogings tot selfdood aangewend. Dit is veronderstel om ’n viering van Afrika-dag te wees, 25 jaar na [Suid-Afrika se] bevryding, maar as ek dink aan die onderwerp van vanaand se lesing, het ons nog nie ons self bevry nie van eeue-oue vooroordele en van trauma, en ook rakende psigiese siektes, veral die wat hul lewens verloor het weens sulke siektes wat terminaal geword het,” het Rabe gesê na afloop van Siwendu se lesing.

Siwendu het aan die einde van die aand vir studente gesê dat sy nooit sal voorgee dat sy als weet oor psigiese siektes nie.

“Ek kan nie hier sit en sê dat ek die kristalbal of die antwoord het op die moeilike vrae nie. Wat ons egter gevind het is dat as jy ’n groep van 20 of 30 mense saamsit en jy leer hulle hoe om leiding te vat vir die onsekere toekoms, daar is geen manier dat jy nie genesing sal vind in so ’n gesprek nie,” het Siwendu gesê.

Besoek gerus die onderstaande webtuistes vir meer inligting oor geestesgesondheid en -bewusmaking:

https://yivani.com/

http://www.sadag.org/

https://www.ithembafoundation.org.za/

0001

Afrika-dag inligting. Grafika: Roxanne Mooneys.