’n Woordfeesdirekteur kan nie iemand wees wat elke dag vroeg wil uitval nie. Teen 16:00 wemel dit nog by die Erfurthuis, hoofkantoor van die Woordfees. Die volgende Woordfees lê nog ver (6 Maart 2020 om presies te wees), maar die reëlings moet solank getref word.
Saartjie Botha, feesdirekteur van die Woordfees, ontvang my in haar kantoor en sê hulle het vroeër die dag datums vasgemaak vir onder meer die programbekendstelling. Ons begin praat oor die fees en moontlike veranderinge of toevoegings tot volgende jaar se fees.
“Ons het vanjaar twee reëndae en een verskriklike winddag gehad, wat vreemd is vir daai tyd van die jaar. So mense het minder [alkohol] gedrink en meer koffie gedrink, want dit was koud,” sê sy.
Wil hulle hê feesgangers moet meer (alkohol) drink? “Ons wil nie hê hulle moet dronk wees nie. Oor die algemeen wil ons hê mense moet drink, maar nie te veel nie,” sê sy. Dit is maar een van die aspekte van vanjaar se fees wat in gedagte gehou word vir die volgende fees.
“Woordfees is gebou as ’n intellektuele fees. Dit het nog nooit verander nie. Ons was nog nooit ’n stalletjie-fees nie. Dit het altyd oor kwaliteit gegaan en nooit oor kwantiteit nie. Dit gaan nog steeds vir ons daaroor,” sê sy.
Saartjie het in 2002 as teaterkoördineerder betrokke geraak by die Woordfees. Dit was maar die fees se derde bestaansjaar en dit was baie kleiner en daar was baie minder geld. Sy het “on the side” begin daarmee as oudstudent van die departement Afrikaans en Nederlands, die einste departement waaruit die Woordfees ontstaan het.
“Ek het die teaterprogram gedoen sonder enige begroting. Dit was letterlik: ‘Wie kan kom? Wie kan verniet kom?’ Dáái dae,” skerts sy.
Meer as ’n dekade later is Saartjie nou aan die stuur van die Woordfees en al bly befondsing moeilik om in die hande te kry, het ’n groot maatskappy soos Toyota onlangs ’n borgskap vir die volgende drie jaar geteken.
Woordfees is egter nie haar eerste kennismaking met feeste nie. Op skool het sy al die Nasionale Kunstefees te Grahamstad (nou Makhanda) bygewoon as deel van die jeugfees. Só ’n opset sou later haar voorland word. Maar wat het sy toe van feeste gedink? “Ek het nooit gedink dit is wat ek wou doen nie. Ek het net geweet dit is waar ek wou wees.
“Ek wou eintlik Rhodes toe gegaan het,” verklap Saartjie.
“Sommer maar net. Ek wou wegkom uit Bloemfontein. En Reza de Wet was daar. En Andre P. Brink.”
En het dit nie rêrig saakgemaak dat dit ’n Engelse universiteit is nie? “Nee, ek dink nie ek het besef hoe sleg ek Engels praat nie, dit sou beslis ’n probleem gewees het,” skerts sy.
“Ek het nie geweet wat ek wou doen nie. Ek wou eintlik ’n gap jaar vat, toe sê my ma ek moet swot. Toe sê ek Grahamstad, toe sê hulle nee. Ek dink hulle was bang ek was miskien te meegevoer met Voëlvry, te meegevoer met musiek. Ek dink hulle het gevoel hulle moet net ’n oog oor my hou. Maar hulle het ons eintlik baie goed toegelaat wat my portuurgroep se ouers hulle nie toegelaat het nie. So hulle was nogal oopkop ouers,” sê sy.
Sy sê hulle was ook nie baie voorskriftelik nie en daar was baie blootstelling. “Ons het baie teater toe gegaan. Ek kon vir myself ’n wêreld skep deur die materiaal wat baie gerieflik beskikbaar was,” sê sy.
Maar presies waar het haar liefde vir teater vandaan gekom?
“Ek dink dit is ’n Vrystaatse ding. Toe ek nog baie klein was, soos in voor skool, het ons van die plaas af naby Bethlehem Johannesburg toe gery om te gaan musicals kyk. En dit was nie net ons nie. Dit was ’n ding om te doen,” sê sy.
Daar was ’n vorm van ’n kulturele woordeskat en verwysingsveld wat van vroeg ontwikkel is, beweer Saartjie. “In Bloemfontein is daar nie baie goed om te doen nie, so watookal aangebied is, het ons gaan kyk,” sê sy. Dit was nog in die tyd wat Bloemfotein sy eie streeksraad gehad het, naamlik die Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat (SUKOVS).
“Ek is baie lief vir die Vrystaat en ek is baie lief vir die Vrystaat se mense, maar daar is ’n vorm van behoudendheid wat soms bietjie bedompig raak.
“My pa was in die parlement toe ek gebore was, so ek het heen en weer getrek tussen Bethlehem in die Vrystaat en Kaapstad. My pa was die administrateur in die Vrystaat. Ek is ’n Vrystater. My ma kom van Kroonstad af en my pa van Bethlehem.
“Die Vrystaat is klein en jy is altyd iemand se kind in die Vrystaat,” verduidelik sy.
Maar gelukkig na matriek, wat sy aan die C & N Meisieskool Oranje in Bloemfontein voltooi het, het sy toe kom swot op Stellenbosch en die res is geskiedenis. Was dit ooit ’n ding dat haar pa ’n parlementslid was?
“Glad nie. Daar was ander mense se pa’s wat belangriker was as my pa,” sê sy.
Toe die onderhoud klaarmaak, is dit al na 17:00. Meeste mense het al vir die dag uitgeval en teen die tyd is Birdstraat seker ’n nagmerrie. Saartjie is egter nog nie op pad huis toe nie en beplan om nog ’n tydjie by die Erfurthuis te wees.
’n Woordfeesdirekteur moet immers nie iemand wees wat elke dag vroeg wil uitval nie.