Plakkers moontlik blyplek kwyt na planne vir die bou van gemeenskapsentrum

Plakkers wat tans op die perseel van die ou Klein Libertas teater woon, gaan moontlik binnekort hul blyplek verloor nadat die Stellenbosch Munisipaliteit besluit het om ’n gemeenskapsentrum in dié gebied op te rig.

Hierdie besluit volg ná die Klein Libertas Teater in 2015 gedeeltelik deur ’n brand verwoes is. Die munisipaliteit het die Stellenbosch-gemeenskap tot en met Desember verlede jaar geleentheid gegun om kommentaar te lewer oor die toekomstige gebruike van die area. Die meerderheid insette wat verkry is, was vir die herbou van die teater.

Die koste vir die herbou van die teater beloop R6 miljoen, waarvan slegs R3,5 miljoen deur versekering gedek word. Die oorblywende R2,5 miljoen is begroot vir die 2018 en 2019 boekjaar.

Volgens Piet Smit, bestuurder van eiendomme en administrasie by die Stellenbosch Munisipaliteit, beplan hulle om ’n “multi-funksionele” gebou op te rig. Sodra die proses afgehandel is, sal die raad voorstelle inwin oor die gebruike van die sentrum.

Die plakkers is egter ontsteld oor die verwikkelinge aangesien hulle sal moet trek sodra die bouproses begin. Volgens Ilene Lodewyk, ’n inwoner op die perseel, het hulle eers naby Coetzenburg gewoon voordat die munisipaliteit hulle na bewering R15000 per gesin gegee het in ruil daarvoor dat hulle die perseel verlaat.

Sy meen hulle wag al twee jaar lank vir die munisipaliteit om vir hulle ’n woning te gee, maar dat hulle steeds niks ontvang het nie.

“Ons soek net ’n warm huis en ’n dak oor ons kop; ons soek nie geld nie,” vertel Lodewyk.

Ilene Lodewyk (links) sit saam met Chantelle Engelbrecht (regs) en haar suster, Jolene Lodewyk (middel) wat sewe maande swanger is. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Ilene Lodewyk (links) sit saam met Chantelle Engelbrecht (regs) en haar suster, Jolene Lodewyk (middel) wat sewe maande swanger is. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Chantelle Engelbrecht, ’n plakker wat reeds vir ’n jaar en ’n half op die perseel woon, sê sy verstaan dat die area nie veronderstel is om behuising vir mense te bied nie, maar sy meen egter dat die munisipaliteit die oplossing beter kan hanteer.

“Die munisipaliteit het vir ons huise belowe, maar dit is al twee jaar later en ons wag steeds,” sê Engelbrecht.

Die skade van die brand in 2015 kan steeds gesien word teen die muur van een van die enigste geboue wat staande gebly het op die perseel. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Agter Chantelle Engelbrecht, ‘n inwoner, kan skade van die brand steeds gesien word teen die muur van een van die enigste geboue wat staande gebly het. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Volgens Michelle Aalbers, die bestuurder van gemeenskapsontwikkeling by die munisipaliteit, kwalifiseer dié inwoners vir ’n projek wat deur die munisipaliteit geloods is, waar kos en komberse aan hawelose mense uitgedeel word.

Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van die Stellenbosch Munisipaliteit, sê hulle werk saam met die regering om behuising te voorsien, maar dat die inwoners aansoek moet doen om op die behuisingslys geplaas te word. Hy sê dié waglys het egter tans ’n agterstand van 22 000.

“Die munisipaliteit het onlangs begin met ’n ouditproses om te bepaal of daar nog grond beskikbaar is wat omskep kan word vir behuising,” meen Grobbelaar.

DSC_0034

‘n Paar van die inwoners woon in skuilings agter die enigste gebou op die perseel. FOTO: Nicolette van Schalkwyk

Juanita Swanepoel, voormalige eienaar van die teater, sê sy neem nie die mense kwalik wat tans op die perseel woon nie.

“Dis is nie meer ons grond nie so ons kan nie meer aanspraak daarop maak nie,” sê Swanepoel.

Swanepoel meen egter dat dit steeds hartseer is om die toestand van die perseel te sien.

“Die Klein Libertas was ’n gemeenskaps- en dorpsteater en die natuurlikste vermenging van verskillende samelewingsgroepe,” sê Swanepoel. “Dis hartseer om te sien hoe die area agteruitgaan.

“Hopelik sal die nuwe gemeenskapsentrum weer ’n lekker bymekaarkomplek vir teatergangers word.”

This slideshow requires JavaScript.

[infogram id=”aa3fb092-c5bf-45fb-84a4-6660c2bd8cc2″ prefix=”NFt” format=”interactive” title=”Infographic Modern”]