ʼn Plaaslike nie-regeringsorganisasie (NRO) het sanitêre produkte verskaf aan ongeveer 300 behoeftige leerders by Hoërskool Kayamandi.
Die sanitêre produkte is deur Amnesty International Stellenbosch (Amnesty Stellenbosch) verskaf. Dit is volgens Juanette Pienaar, uitreik-koördineerder by Amnesty Stellenbosch. Die hoërskool het 177 pakkies sanitêre produkte op 31 Maart ontvang, het Pienaar gesê.
Amnesty Stellenbosch het 177 pakkies sanitêre produkte aan behoeftige leerders by Hoërskool Kayamandi voorsien. FOTO: Verskaf/Angelique Daniels
“Om nie toegang tot sanitêre produkte te hê nie, beteken dat ons leerders op klasse uitmis tydens hul menstruasieperiodes omdat hulle nie gemaklik voel om skool toe te kom nie,” het Ntandokazi Mtotose, ʼn onderwyser by Hoërskool Kayamandi, via WhatsApp-boodskap aan MatieMedia gesê.
Mtotose het Amnesty Stellenbosch genader oor die tekort, het Pienaar gesê. Die sanitêre produkte is twee weke later by die skool afgelewer.
“Dit is ʼn bose kringloop. Jy mis uit op skool omdat jy ongemaklik is … en [om] baie ander redes. Jy mis verder skool deur te probeer om op te vang en dit word net nie beter nie. Ons wil dit stop,” het Pienaar gesê.
ʼn Verdere 96 pakkies sanitêre produkte sal volgens Pienaar teen die tweede week van April aan die skool afgelewer word.
Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) het bevestig dat die bekostigbaarheid van sanitêre produkte ’n probleem vir armer leerders is.
“[Die WKOD] is bekommerd oor hoe dit [leerders se] maandelikse skoolbywoning en dus hul geleenthede vir ʼn goeie opvoeding beïnvloed,” het Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie by die WKOD, per e-pos aan MatieMedia gesê.
Die WKOD werk volgens Hammond aan projekte en inisiatiewe om bewustheid rondom leerders se gebrek aan toegang tot sanitêre produkte te skep.
Juanette Pienaar verduidelik die impak van ʼn gebrek aan sanitêre produkte op skoolbywoning.
Amnesty Stellenbosch beplan om in die toekoms die tekort aan sanitêre produkte in die gemeenskap op ʼn meer volhoubare wyse aan te spreek, het Pienaar gesê.
To read this story in English, click here.