Die Ver[R]as-komitee van vanjaar het op 15 Oktober die bekendstellingsfunksie gehou van die versamelbundel genaamd Penseel. Die bundel was egter nog nie gedruk teen die bekendstellingsdatum nie. Eers ’n week na die bekendstellingsfunksie het die boeke aangeland. Penseel word elke jaar deur Ver[R]as, wat uit studente van Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans Nederlands (AN) afkomstig is, gepubliseer. Die historiese Hofmeyrsaal in Kerkstraat het as gasheer gedien vir die bekendstelling.
Dalene Vermeulen, wat een van die keurders was, sê dat “die manuskrip 187 bladsye dik was, so julle kan net dink hoeveel gedigte dit was.” Die keuringsproses werk so dat die keurders nie weet wie watter gedig geskryf het nie. Die gedigte word sonder name in ’n manuskrip vir hulle gestuur en dan moet ’n gedig regmerkies kry. “Ons kyk na watter gedigte die sterkste is,” sê Vermeulen. Nog keurders is afkomstig van Departement Afrikaans Nederlands, naamlik Elbie Adendorf, Amanda Lourens, Marius Swart en Andries Visagie.
Liana Roos, kantoorbestuurder by AN, sê dat hulle net 50 bundels bestel het vanjaar. “Dit is vreeslik gewild vanjaar en mense het klaar baie bestellings geplaas,” vertel sy.
Mart-Marié Serfontein, ’n derdejaar BA(Regsgeleerdheid)-student, se gedig My hart sit in Potchefstroom is gepubliseer en sy het die glans geleentheid bygewoon. “Al my gedigte is vir my baie spesiaal. Ek skryf net as ek iets het om oor te skryf,” vertel Serfontein.
“Daardie spesifieke een [wat in die bundel is] het my definitief gehelp om closure te kry na ’n liefdes-teleurstelling. Die hele gedig is eintlik maar ’n reis en dit is ’n metafoor vir my closure wat ek gekry het.”
By die funksie was daar A3 afdrukke van die gedigte en kortverhale wat gekies is vir die bundel. Skrywers het die geleentheid gehad om hul werke te kon voorlees.
Volgens Serfontein is die Penseel bekendstellings altyd ’n lekker ervaring. “Ek is bietjie teleurgesteld dat die boek nou nie hier is wat ek kan huis toe vat en vir my ouers gaan wys nie, maar ek verstaan dat alles nie altyd volgens plan verloop nie,” sê Serfontein. “Maar ons kon die gedigte hoor, ons kon die gedigte sien so eintlik is daar niks om oor te kla nie.”
Oor die gedigte van vanjaar voorgelees is, sê Serfontein dat sy “mal” oor hulle almal is. “Dis min dat jy onbekende Afrikaanse gedigte hoor wat jy weet goed gaan wees. Jy weet as jy Penseel toe kom, gaan jy goeie gehalte gedigte hoor. Dis in Afrikaans en dis eintlik vir my die belangrikste.”
Een van Franco Gericke, wat ’n Sielkunde-student aan US is, se gedigte (getiteld Sterrestelsel) is vanjaar vir die eerste keer in Penseel gepubliseer. “Ek het al van graad ag af geskryf en toe besluit ek laat ek maar ’n kans vat en inskryf. Die geleentheid was baie interessant vir my,” vertel Gericke.
“Die digters is oop, hulle is eerlik en dis vir my mooi.”
Gericke en Serfontein sê hulle sal beslis volgende jaar weer inskryf. Klik hier om meer te sien van die funksie.