‘Pa, husband en ma se kind.’ Só beskryf die bekroonde skrywer Nathan Trantraal homself. In ’n onderhoud vol grappe en ernstiger oomblikke, gesels hy met MatieMedia oor die dinge wat vir hom belangrik is: Sy taal, en sy lewe as gesinsman.
Nathan Trantraal, ’n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer en digter, is in 1983 gebore. Trantraal het die Ingrid Jonker-prys en ’n ATKV-Woordveertjie met sy debuutbundel, Chokers en Survivors, ingepalm. “Die bundel gaan oor die mense wat dit “all the way through maak” en die mense wat dit nie maak nie, “die chokers”. FOTO: Verskaf/Nathan Trantraal
“Ek het altyd ’n feeling gehad vir skryf,” sê Nathan Trantraal. “En toe ek die eerste keer iets skryf wat gewêk het, was dit vir my soos ’n eureka-moment. Ek het dit uitgefigure!”
Hy gesels met MatieMedia via ’n Teams-oproep vanuit Makhanda in die Oos-Kaap.
Trantraal is in 1983 in Bishop Lavis gebore, maar het aan die begin van sy skoolloopbaan na Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte verhuis. Tydens sy graad 11-jaar, het hulle weer na Bishop Lavis getrek.
“Ons is ses kinders. Ek is die middelkind van ses kinders, maar dit is complicated. Shit, dis complicated.”
Trantraal verduidelik dat daar ’n groot gaping tussen die jonger en die ouer kinders is.
“Ek is kinda close met almal en ons kom goed oor die weg. Maar die feit dat ons swaar grootgeword het, affect ook wie ons vandag is. Ons het ’n bond wat rondom suffering gevorm is,” vertel hy.
Trantraal het in armoede grootgeword. Hy sê dat daar niks fout is met swaarkry nie, maar dat dit veroorsaak dat verhoudings ingewikkeld raak soos mens ouer word.
“Daai ding wat ons saamgebind het, is nie meer daar nie,” verduidelik hy oor die verhouding met sy broers en susters. “Almal need om hulself buite te gaan vind. En buiten dat ons ses kinders is, is my ma ook nog daar en sy is ’n complex figure op haar eie.”
Trantraal se ma is ’n matriarg. “Almal wil haar favourite wees,” sê hy. “Daai create ’n conflict tussen ons. Daar is nie bad blood nie, maar dis baie difficult om at peace te wees met mekaar wanneer daar soveel dinge is waarmee ons nie gedeal het nie.”
Sy taal
Trantraal word in die letterkunde hoofsaaklik bestempel as ’n Kaapse Afrikaanstalige skrywer. Maar hý beskryf sy taal as ’n mengsel van die variëteit van Mitchells Plain en Bishop Lavis.
“Kaaps is nie iets waarvoor jy na ’n plek toe gaan en leer nie. Dis die taal waarin ek grootgeword het,” sê hy. “So, as ek moet verduidelik hoe ek praat, sal ek sê dis ’n mixture van Mitchells Plain en Bishop Lavis. Dis die plekke waar ek grootgeword het. So, my speech is obviously geinfluence deur daai.”
Trantraal sê die different spaces waaraan hy blootgestel is, het die grootste invloed op sy skryfwerk gehad.
“Mitchells Plain is ’n baie different space in vergelyking met Bishop Lavis en dit het ’n influence op my denkwyse gehad. My experiences kom uit daai plekke uit.”
Hy wys daarop dat daar ook verskille is in hoe die mense van Bishop Lavis en Mitchells Plain praat.
“Mitchells Plain – dalk is dit nie meer so nie – maar toe ek daar grootgeword het, was Mitchells Plain soort van ’n middelklas plek en almal praat Engels. Dit was ’n baie pretentious plek gewees en mense het nie besef hulle bly in ’n township nie,” vertel hy.
Bishop Lavis daarteenoor is “’n baie meer honest ghetto plek”, sê hy.
“Almal is bewus van waar hulle is en as ’n result daarvan is mense baie meer nicer en baie meer down to earth. So, die mense in Mitchells Plain praat Engels wat met Kaaps combined is, terwyl daar in Bishop Lavis net Kaaps gepraat word.”
Vir Trantraal is dit nie nodig om Standaardafrikaans te gebruik nie.
“Wanneer ek ’n liefdesbundel skryf is dit nie vir my nodig om Standaardafrikaans te gebruik nie. Ek kan alles wat ek wil sê, in Kaaps sê. Ek voel gemaklik in die taal waarin ek skryf, so waarom moet ek switch?”
Nathan Trantraal sê hy hou daarvan om te gaan stap wanneer hy skryf. “Nie stap en skryf tegelykertyd nie, maar baie te stap. Want wanneer jy stap kom gedagtes by mens op wat nie geforseerd is nie.”
Chokers en Survivors
Trantraal het die Ingrid Jonker-prys en ’n ATKV-Woordveertjie vir sy debuutbundel Chokers en Survivors ingepalm.
“Met hierdie bundel wou ek hê mense moet ’n feeling kry. Dis nie ’n stilsit-bundel nie,” sê hy.
“Die titel verwys na ’n type of nickname vir peanutbutter en jêm brood. Dis wat die government se feeding schemes op skool gehad het en al die arm maatjies het chokers en survivors gekry. Maar daar is ook ’n double meaning,” sê hy.
Die bundel gaan oor die mense wat dit “all the way through maak” en die mense wat dit nie maak nie, “die chokers”.
Trantraal skryf oor sy ervaringe, maar ook om ’n rekord te los van mense wat vergeet word en om te beklemtoon dat daardie mense se lewens ook belangrik is.
“Ek gee nie om oor pryse nie, maar dit is belangrik vir die taal. Ek dink dit gee die taal soort van validity. Dit help die taal om meer acceptable te word,” meen Trantraal.
“Mense misverstaan honesty. Hulle dink honesty is ’n soortvan violence, maar ek try om actually open te wees saam met mense. Ek dink as mens open is oor jou eie stuff, dan maak dit ander mense oop om meer open te wees oor hulle stuff,” sê hy.
En dít is Trantraal se bedoeling met sy skryfwerk.
“Ek wil die air clear. Om alles in die open te sit sodat almal bietjie beter oor hulself kan voel.”
Trantraal en Ronelda S. Kamfer
“Ek het vir Ronelda [Kamfer] vir die eerste keer by die Franschhoek Festival sien perform,” sê Trantraal. Hy blaas sigaretrook uit.
Hy het met die eerste oogopslag ’n “connection” gevoel.
“Daar is daai moment… as jy saam met iemand praat en daar is ’n connection. Dis ’n connection beyond your personal experience. En die res was geskiedenis,” sê Trantraal.
Kamfer, Trantraal se vrou is ook ’n bekroonde skrywer. Sy onthou hul eerste ontmoeting as “profound”.
“Dit was weird, want ek het niks ander writers of artists soos Nathan en sy broer geken nie. Nathan en sy broer was die eerste writers wat ek ontmoet het wat uit dieselfde kind of neighbourhoods kom vanwaar ek kom,” vertel Kamfer.
Vir Kamfer is Trantraal een van die gaafste mense wat sy ken.
“Ek dink mense misjudge hom based op die tipe werk wat hy doen en sy no-nonsense attitude. Dis vêr van sy ware personality af,” het Kamfer gesê.
Nathan Trantraal is getroud met Ronelda S. Kamfer, ook ’n bekroonde en bekende skrywer. Vir Kamfer is Trantraal een van die niceste mense wat sy nog ooit teëgekom het. “Ek dink mense judge vir Nathan op die persona wat daar uit is, dat hy heeltyd wil baklei en in conflict is.”
Pa-wees en mentorskap
Trantraal beskryf homself as “’n pa, ’n husband en my ma se kind”.
Ouerskap is vir hom in sekere gevalle moeilik, juis omdat sy eie pa so ’n “fuck-up” is.
“Dit is weirdly painful om te besef hoe baie jy uitgemis het,” sê hy. “Ek wil baie vir my kind gee, maar terselfdertyd kan ek nie daarmee relate nie, want ek het dit nie gehad nie. Maar dit is ’n satisfying feeling om ’n kind te het.”
Trantraal is ook ’n mentor vir talle jong skrywers, insluitend Ashwin Arendse, Ryan Pedro en Veronique Jephtas.
Hy is versot op die kunste, maar vir Trantraal is mense belangriker. Hy stel nooit die kunste bo enigiemand nie, sê Trantraal.
Pedro beskryf vir Trantraal as ’n prototype writer.
“Sy craft is en het throughout sy hele career untouched gebly deur industry nonsense en skewed romantic notions oor wat dit beteken om ’n artist te wees,” sê Pedro.
Vir Pedro is Trantraal se werk soos “om deur ’n silwerskoon venster te kyk en ’n play-by-play van die human condition te sien”.
“Dis regtig indrukwekkend,” sê Pedro.
Trantraal se advies aan jong skrywers is om eers te leer dink, te lees en dan te leer skryf.
“Ek sien klomp writers wat kan skryf, maar nie kan dink nie. Daar is soveel writers wat ek meet, wat nie lees nie. Kry iets van value om te sê en skryf dan daaroor,” het Trantraal gesê.
“Skryf, dink, werk harder. So maklik soos daai.”