Die Universiteit Stellenbosch (US) se Ou Hoofgebou word tans opgeknap as deel van ’n instandhoudingsroetine. Dit hou dus nie verband met die Fakulteit Regsgeleerdheid se eeufeesviering nie.
Dit is volgens Karin Wiss, fakulteitsbestuurder van regsgeleerdheid aan die universiteit. Die fakulteit word vanjaar 100 jaar lank reeds in dié gebou gehuisves, en die 100-kunswerk wat onder die gebou se balkon te siene is, is wel ter viering daarvan aangebring, het sy gesê.
“Die meerderheid van die eeufeesvieringe is egter uitgestel tot 2022 – in die lig van die huidige Covid-19-pandemie,” het sy per e-pos aan MatieMedia gesê.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Ou Hoofgebou word tans opgeknap vir “broodnodige instandhouding”, volgens Karin Wiss, fakulteitsbestuurder van regsgeleerdheid aan die US. Die gebou is in 1886 in gebruik geneem, en huisves dié fakulteit sedert sy totstandkoming in 1921, volgens die US-webtuiste. Die fakulteit vier dus vanjaar sy eeufees. FOTO: Candice Jantjies
Opknapping
Die opknappingswerk aan die Ou Hoofgebou is einde Junie vanjaar begin, volgens Wiss. Dit is geskeduleer om teen middel September voltooi te wees.
“[Die instandhouding] behels die opvulling van krake en verfwerk aan die buitekant van die gebou – insluitend broodnodige instandhouding van die houtdeure en -vensterrame,” het sy gesê.
Dié projek word volgens Wiss deur die boumaatskappy Qabani National behartig. Verder word daar ook pleister-, bou- en loodgieterswerk aan die gebou gedoen, volgens Conley Koeries, die opsigter van die projek.
“Hulle wil dit ’n bietjie opkikker – new looks, oorgeverf,” het Koeries oor die US se opknapping van die gebou gesê. “Hier was so ’n bietjie krake. Al die patches is om dit maar net reg te maak.”
Die boumaatskappy Qabani National behartig die huidige opknapping van die Ou Hoofgebou. FOTO: Candice Jantjies
Die huidige opknapping van die Ou Hoofgebou behels pleister-, verf-, bou- en loodgieterswerk, asook die opvulling van krake. Steiers word gebruik om bouers hoër as ses meter te hys, volgens Conley Koeries, opsigter van dié projek. Bergklimtoue word ook ingespan om bouwerk op moeilik toeganklike plekke te doen, het hy gesê. FOTO: Candice Jantjies
Toeka tot nou: Regsgeleerdheid ’n eeu lank in Ou Hoofgebou
Die Ou Hoofgebou – wat in November 1886 in gebruik geneem is – huisves die Fakulteit Regsgeleerdheid sedert dié fakulteit se totstandkoming in 1921, volgens die US-webtuiste.
Voordat die eeufeesvieringe uitgestel is, was die doel om die aandag daarop te vestig met die “tydelike installasie” van die 100-kunswerk. Dit is volgens Pieter Swart, hoof van groot skenkings en transformasionele skenkings by die US.
“Die 100 sal een of ander tyd na ’n ruimte binne die gebou geskuif word,” het Swart per e-pos aan MatieMedia gesê.