Vyf ekovriendelike besighede in Stellenbosch bring hulle kant
’n Skynbare toename in mense wat ’n vegetariese, veganistiese of selfs “groener” leefstyl verkies, lei tot ’n groter vraag na goeie gehalte en bekostigbare, ekovriendelike produkte. ’n Handvol ondernemings op Stellenbosch voorsien in hierdie behoefte.
Mish Design en Mish Illustrations
Misha le Roux (27), ’n plaaslike ontwerper en kunstenaar, wou graag haar vaardighede met die wêreld deel en het daarom haar passie in twee ondernemings verander, naamlik Mish Design en Mish Illustrations.
Mish Design bied ’n reeks strategie- en ontwerpdienste spesifiek vir bemarking en web-ontwerp. Mish Illustrations is ’n tak van Mish Design wat gedrukte illustrasies, oorspronlike kunswerke, ekovriendelike notaboekies en herwinde lapsakke (“totebags”) verkoop. Sy gebruik herwinde linne vir haar drukwerk en herwinde papier vir haar notaboeke.
“Wanneer jy iets van die natuur neem, moet jy ook iets teruggee,” vertel Le Roux.
“Ons maak plaaslike produkte en lewer plaaslike dienste. Ons sit ’n bietjie van onsself in alles wat ons maak of verkoop, daarom koop jy ’n produk of diens wat met sorg en moeite gemaak is.
“Klein besighede, veral in Stellenbosch, het baie om te bied, so ondersteun hulle gerus.”
Vir meer inligting:
Mish Design: www.mishdesign.co.za of Instagram: @mishalrx
Mish Illustration: www.mish.shopstar.co.za of Instagram: @mish_illustrations
Down to Earth – Stellenbosch
Axl Maas (26) en sy vriendin, Lauren Greve (24), het ná jare as vegetariërs besluit om ’n veganistiese leefstyl te volg weens hul liefde vir diere.
“Ons kon nie langer ’n leefstyl regverdig wat duidelik soveel pyn en lyding aan lewende wesens besorg het net omdat ons tonge dit beveel het nie. Ons was afgehaal oor hoe duur plantbasisprodukte is,” vertel Maas.
Die hoë koste van “groen”-kos het hulle gemotiveer om self hulle eie produkte te maak en mettertyd het ’n stokperdjie tot ’n besigheid gelei.
“’n Mens kan nie bekostig om plantbasisprodukte op ’n studentebegroting te koop nie.”
“Ons etos is om plantbasisprodukte aan veganiste en nie-veganiste teen ’n bekostigbare prys te verkoop, om so ’n era te begin waar ’n plantbasis-dieet nie meer vir die elite is nie, maar eerder ’n werkbare alternatief vir alledaagse mense.”
Deur hulle Facebook-winkel (met ’n Whatsapp-bestelplatform) ontvang kliënte ’n weeklikse spyskaart met ’n warm, ’n bevore en ’n nageregopsie. Al hulle verpakkingsmateriaal is bio-afbreekbaar. Hulle lewer op Maandag- en Woensdagaande af en maak voorsiening vir onthale, verjaarsdae en privaatfunksies. Hulle het ook onlangs ’n nuwe “groen” lekkerny-reeks bekendgestel.
Vir meer inligting:
Whatsapp: 073 1199 186
Facebook: Down to Earth – Stellenbosch.
The Bespoke Artichoke
Greve was vir verskeie jare vegetaries voor sy besluit het om ’n veganistiese dieet te volg. Sy vertel dat sy in hierdie oorgangtyd gesukkel het om lyfprodukte en ander produkte te vind wat nie van sintetiese materiale gemaak word nie.
“Ek wou hê my werk moes my morele standpunt weerspieël,” vertel sy.
Daarom verkoop Greve se aanlynwinkel veganistiese produkte wat nie op diere getoets word nie en wat deur óf Beauty Without Cruelty óf Leaping Bunny goedgekeur word. Sy bied ook ’n reeks palmolie-vrye vegan-kos aan en ’n vegan-geïnspireerde klerereeks. Hulle lewer nasionaal binne twee tot vier werksdae af en alle bestelling oor R500 se afleweringskoste is gratis.
Items van The Bespoke Artichoke se vegan-geïnspireerde klerereeks. FOTO: Facebook
“As dit makliker is om artikels in Suid-Afrika te koop wat nie op diere getoets is nie, hoef niemand by groot maatskappye te koop wat dit steeds doen of diermateriaal gebruik nie.”
Byna 95% van hulle produkte word plaaslik verkry, wat werkskepping bevorder.
“Volhoubaarheid is belangrik vir ons omdat dié pragtige wêreld die enigste een is wat ons het en ons moet dit behandel met die respek wat dit verdien.”
Vir meer inligting:
Webtuiste: www.thebespokartichoke.co.za
Life straw
Hoewel die naam nog nie amptelik is nie en die onderneming skaars twee maande oud is, is Renate Wahl (36) se strooitjies van vlekvrye staal besig om sy voete in Stellenbosch te vind.
“Ek is vreesbevange oor die toekoms van ons planeet en dit word net nie beter nie,” vertel Wahl.
Wahl, wat getrou jogaklasse bywoon, geniet dikwels ’n smoothie ná sy oefen. Die feit dat die meeste besighede plastiekstrooitjies by hulle drinkgoed gee, het Wahl geïnspireer om ’n “groen” alternatief te soek.
“My kêrel het meganiese vaardighede, so hy het die mannekrag en ek het die idee gehad,” vertel sy.
“Stellenbossers hou daarvan om te dink hulle bly in die mooiste plek en dit is, maar loop ’n draai by Hangbrug en dit is nie meer so mooi nie. Glasbottels, chips-papiere en plastiek lê orals. As ons hier anders begin dink en koop sal ons die mense om ons ook begin invloed,” sê Wahl.
Sy bied ook aan om mense en ondernemings se herwinde vullis na ’n betroubare herwinningplantasie te neem.
Vir meer inligting:
Whatsapp: 073 231 8176
E-pos: renatewahl@gmail.com
Flora Aura
Byna ’n jaar gelede het Catherine Meyer (21), ’n BSc-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), binnenshuise plante in prettige houers begin verkoop nadat haar eie versameling té groot begin word het.
“Hoewel ek nie glo dat ’n mens ooit genoeg plante kan hê nie, wou ek my passie deel en green vibes versprei,” vertel Meyer, wat graag eendag haar eie kwekery wil besit.
Sy probeer ook om plante soos die spekboom te verkoop wat ’n meer positiewe uitwerking op die omgewing het. Sy gebruik nie plastiekhouers nie en koop die meeste van haar unieke potte by tweedehandse- en antiekwinkels. Sy maak ook van aardse terracotta-potte gebruik.
“Ek glo hierdie planeet is nie ons s’n nie. Dit behoort net soveel aan elke ander organisme op die aarde.
“Ons [as mense] beheer al die hulpbronne en heers oor alle ander vorme van lewe en daarom is dit ons verantwoordelikheid om dit te reguleer en te verseker dat daar ruimte is vir ons almal om in harmonie te leef.”
Vir meer inligting:
Instagram: @indoorflora
Facebook: @indoorflora
E-pos: catherinelouisemeyer@gmail.com