Maties-hokkie kraai twee keer koning

Maties-hokkieklub se mans- én vrouspan het vanjaar goue medaljes ingeplam by die Universiteitesport Suid-Afrika (Ussas)-hokkietoernooi. Dit is volgens Ongeziwe Mali, kaptein van die Maties-vrouehokkiespan. 

Maties

Tydens vanjaar se Universiteitesport Suid-Afrika-hokkietoernooi het beide die mans- en vrouhokkiespanne van die Universiteit Stellenbosch goue medaljes verower. FOTO: Verskaf/Jan van Zyl

Die toernooi het tussen 4 en 8 Julie by die Universiteit van Kaapstad (UK) plaasgevind waar albei Maties-spanne teen die Universiteit van Pretoria (Tuks) in die finaal op 8 Julie te staan gekom het. Die mansspan het Tuks 5-3 geklop, terwyl die vrouespan met 2-1 teen Tuks geseëvier het. 

Vier goue medaljes vir Maties

Die beste mans- en vrouespelers van die toernooi, Jacques van Tonder en Stephanie Botha, is ook beide Maties-hokkiespelers.

Maties

Maties-hokkieklub se Stephanie Botha is as die beste vrouespeler van vanjaar se Universiteitesport Suid-Afrika-hokkietoernooi aangewys. “[Stephanie] is ’n uitsonderlike speler en haar toekenning is ’n blyk van waardering vir haar bydrae tot Maties-hokkie,” het Jacques van Tonder, die beste mansspeler van die toernooi en lid van die Maties-manshokkiespan, gesê. FOTO: Verskaf/Jan van Zyl

Vir Van Tonder was dit “die kersie op die koek” toe altwee US-hokkiespanne goue medaljes verower het.

“Dit was die perfekte manier om ’n amperse perfekte hokkieweek af te sluit,” het hy gesê. “Ek dink nie daar is ’n beter gevoel as daardie laaste 10 sekondes van die finaal toe ek besef het ons kan nie meer die wedstryd verloor nie, en dat Maties uiteindelik die gesogte Ussas-toernooi gaan wen.” 

Die Maties-manshokkiespan het baie lanklaas die toernooi gewen, maar het dikwels baie naby gekom, het Peter Jarvis, kaptein van dié span, voor die toernooi aan MatieMedia gesê. Volgens Maties Sport se webtuiste het die mansspan in 2016 laas ’n titel by dié toernooi ontvang. 

Van Tonder het bygevoeg dat dit vir die mansspan spesiaal was om die oorwinning saam met die vrouespan te vier omdat hulle geweet het hoe hard die vrouespan daarvoor gewerk het. Die vrouespan het, volgens Mali, in 2014 laas die Ussas-toernooi gewen.

Jacques van Tonder word deur sy spanmaat Clayton Saker omhels nadat hy ’n doel vir die Maties-manshokkiespan aangeteken het. Van Tonder is as die beste mansspeler van vanjaar se Universiteitesport Suid-Afrika-hokkietoernooi aangewys. FOTO: Verskaf/Jan van Zyl

Tuks word twee maal verslaan

Mali het genoem dat dit altyd ’n uitdaging is om teen Tuks te speel, maar die span het alles ingesit tydens die finaal en het tot die einde toe verbete geveg. 

Volgens Ongeziwe Mali, kaptein van die Maties-vrouehokkiespan, was dit ’n ongelooflike gevoel toe Maties-hokkie tydens die Universiteitesport Suid-Afrika-hokkietoernooi vier goue medaljes ingepalm het. KLANKGREEP: Dominique Fuchs

“Ons het soveel tyd en moeite ingesit ter voorbereiding van die toernooi en die vrouespan het reeds in Februarie vanjaar begin voorberei vir die Ussas-toernooi,” het Lenise Marais, hoofafrigter van die vrouespan, aan MatieMedia gesê. 

Marais het bygevoeg dat die spelers gefokus was en elkeen hulle rol op die veld goed vervul het. “Die plan het goed bymekaargekom en ons was verskriklik opgewonde toe ons die finaal gewen het,” het sy gesê.

“Tydens die finaal [van die die Universiteitesport Suid-Afrika-hokkietoernooi] het almal in die span geweet waarvoor ons staan en ons het mekaar verantwoordbaar gehou,” het Ongeziwe Mali, kaptein van die Maties-vrouehokkiespan, gesê. KLANKGREEP: Dominique Fuchs

Die Maties-vrouehokkiespan nadat hulle die Universiteit van Pretoria in die finaal van die Universiteitesport Suid-Afrika-hokkietoernooi geklop het. FOTO: Verskaf/Jan van Zyl

, , , , , ,