Die BRAhSSE straatdrag klerereeks wat in 2016 deur Shakoer Baderoen (23), begin is raak al gewilder onder studente aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Daarom het Baderoen wat tans sy Nagraadse Diploma in Bemarking aan die US voltooi, en sy vennoot, Matthew Grobler (24), ’n Nagraadse Entrepreneurskap-student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), besluit om vandeesmaand ’n aanlynklerewinkel bekend te stel, waar mense landwyd die geleentheid kry om klere te bestel en laat aflewer.
Volgens Baderoen wou hy nog altyd ’n klerereeks begin waarmee hy aanklank kon vind. “Dit is in Metanoia-koshuis waar ek blootgestel was aan studente van verskillende agtergronde en kulture en dit as inspirasie vir my straatdrag klerereeks gebruik het. Almal in Metanoia is soos ’n familie en dis hier waar ek my brasse ontmoet het,” sê Baderoen.
Dis óók hier waar die naam BRAhSSE vandaan kom wat na vriendskap of broers in Afrikaans verwys. Die klein “h” in die handelsnaam is nie net om dit te onderskei van ander handelsname nie, maar dit het ook verskillende betekenisse. “Vir my verwys dit na ‘heritage’, ‘humble’ en ‘hustle’,” verduidelik Baderoen.
“Ons teikenmark is die nuwe generasie asook mense vanuit verskillende agtergronde en ons beeld dit gereeld uit deur die modelle wat ons gebruik,” voeg hy by.
David Abrahams (22), ’n voormalige US-student, meen dit is die moeite werd om klere by dié groep te koop. “Die klere wat BRAhSSE ontwerp is baie uniek, dis nie te duur nie en is van ’n goeie gehalte,” sê Abrahams.
Volgens Chad Mockey (23), ’n BA Ontwikkeling en Omgewing-student en lid van BRAhSSE, het die handelsnaam sedert 2016 baie gegroei. “Baie min mense het voorheen geweet dat die klerereeks bestaan. Twee jaar later weet meer mense daarvan en ons het ook meer volgelinge op sosiale media met behulp van Neighbourhood Entertainment,” sê Mockey.
“Neighbourhood Entertainment is ’n YouTube-kanaal waar ons vir pret snaakse rap video’s plaas. Mense het daarna begin kyk en wou hê ons moet meer video’s maak. Ons het later begin om die klere in die video’s te dra,” sê Ziyaad Jeftha (23), ’n Siviele Ingenieurswese-student en lid van die groep.
Volgens Jeftha word die groep ook deesdae gevra om optredes te doen en het onlangs ’n promosie video gemaak vir die US se #Move4Food-veldtog. ’n Studente-inisiatief in samewerking met personeel, alumni en skenkers wat poog om voedselonsekerheid op kampus te bestry deur R10 miljoen in kontant en goedere binne 100 dae in te samel om volhoubare voedselbanke op te rig.
Volgens Baderoen wil die groep ook mense bymekaar bring deur kunstenaars die geleentheid te gee om op te tree tydens die BRAhSSE “pop-up stores”. “By hierdie geleenthede wil ons ’n ruimte skep waar mense van verskillende agtergronde bymekaar kan kom deur ’n platform te gee waar eenheid en vryheid van uitdrukking kan ontstaan.”
Zariah Beukes (20), ’n BA Taal en Kultuur-student wat by een van die “pop-up stores” opgetree het, meen dit is ’n baie goeie idee om aan kunstenaars ’n platform te gee.
“As ’n kunstenaar word jy nie net blootgestel aan ander kunstenaars nie, maar die geleentheid kan ook gebruik word om toekomstige gesamentlike optredes te beplan. Só kan ons mekaar help om ’n naam vir onsself te maak,” sê Beukes.