Met sy pikswart sweetpak en ʼn eenvoudige pet op sy kop lyk Mathatha Tsedu met die eerste oogopslag glad nie na die imposante figuur wat mens verwag as jy na sy loopbaan deur die jare kyk nie.
Hy laat jou onmiddellik gemaklik voel en die joernalis in hom kom so subtiel na vore dat mens nie eens besef wanneer hy die rolle omruil en hy die vrae begin vra nie. Tsedu is tans verbonde aan die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) as gasskrywer en is besig om aan sy outobiografie te werk.
Die naam Mathatha Tsedu is sinoniem met politieke joernalistiek en die weerstandsbeweging tydens die Apartheids-era in Suid-Afrika. Tsedu is ook die ontvanger van verskeie gesogte mediatoekennings soos die Nat Nakasa Award for Courageous Journalism, asook ʼn Nieman-genootskap van Harvard-universiteit in die Verenigde State van Amerika. Hy was redakteur van The Star sowel as City Press, en was hoof van Media24 se akademie vir nuwe joernaliste. Tsedu was ook voorheen lid van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se beheerraad.
Tog het Tsedu self nooit enige formele opleiding as joernalis gehad nie.
Tsedu glimlag en sit regop wanneer hy vertel: “Ek het gedink ek wil ʼn mediese dokter word, maar toe besef dis dalk buite my bereik. Toe wou ek ʼn mediese tegnikus liewer word. Die uiteinde was toe dat ek as ʼn klerk in ʼn regeringsdepartement begin werk het. Maar die mense daar kon sien ek stel nie baie belang in wat ek doen nie, so toe laat hulle my gaan.’’
Tsedu het toe werk gevind as ʼn Engels-onderwyser in sy tuisprovinsie van Limpopo. Tydens die 1976 Soweto-protesaksie was hy begeesterd deur die dapperheid van diegene wat die protesaksie gedryf het, en het hy die onderwys verlaat met die droom om sy eie radiostasie te begin.
“Ek het hierdie idee gehad om ʼn revolusionêre radiostasie te begin en dit te gebruik om die boodskap uit te stuur dat die opposisie verdryf moes word,” sê Tsedu.
Na ʼn paar ander werksavonture het Tsedu begin om koerante, spesifiek The Voice, te verkoop in Pietersburg. Hy het egter gevoel dat daar nie genoeg belangstelling in die koerant was in die omgewing waar hy gewoon het nie.
Hy het aan die redaksie in Johannesburg voorgestel dat hulle meer plaaslike nuus insluit, en aangesien daar nie ʼn joernalis van The Voice in die area was nie, het hulle Tsedu aangesê om te begin skryf. Nie een van sy eerste paar stories is gepubliseer nie, omdat na sy eie mening hy baie “politieke propaganda artikels” geskryf het.
Sy groot kans het gekom met ʼn verhoor van ʼn groep tienerseuns in 1978 wat hy aanvanklik bygewoon het om ondersteuning aan die jong mans te bied.
“Ek het mettertyd besef dis iets waaroor ek kan skryf. Ek het toe gaan sit, The Star gevat, my eie notas langsaan geplaas en begin om my storie te skryf volgens die uitleg van The Star. Ek het dit na The Sunday Post gestuur, en alhoewel hulle dit gepubliseer het, het hulle geen erkenning aan my gegee as die skrywer van die artikel nie. Ek het verontreg gevoel, maar ten minste was my storie in die koerant,” onthou Tsedu.
Daardie storie was die vuur wat Tsedu gedryf het om ernstig te begin skaaf aan ʼn loopbaan in joernalistiek. In daardie tyd was dit baie moeilik vir swart mense om joernalistiek te gaan studeer omdat Rhodes Universiteit die enigste instansie was wat dit aangebied het, en die proses om as ʼn swart individu toegelaat te word by ʼn wit universiteit uitmergelend was.
Gedurende sy loopbaan as joernalis in die Apartheidsera het Tsedu baie teenspoed tegemoet gekom. Hy was sonder verhoor in aanhouding geplaas, verban en verbied om enigiets te skryf en selfs gemartel. Tog sê hy blitsvinnig dat daar nooit ʼn enkele oomblik was waar hy begin voel het dat dit alles te erg was nie.
Tsedu is nou afgetree, en sê daar is nie veel meer wat hy wil doen behalwe om rustig op die stoep van sy plaashuis in Limpopo te sit nie. Hy boer daar met vee en koring en sê hy het sy vrede gevind.
Oor die huidige stand van persvryheid in die land, sê Tsedu dat om die Suid-Afrika van nou te vergelyk met die Suid-Afrika voor 1994 is soos om “chalk and cheese” te vergelyk.
“Ons is vry nou om te skryf waaroor ons wil, binne die beperkings van ordentlikheid en waarheid, maar jy weet dat jy nie teen tweeuur die oggend in ʼn sel gaan sit en ondervra word nie. Persvryheid word nie verwerf of bereik nie, dit word verdedig. Ongeag wie in beheer van ʼn land is, mense sal altyd die grense van vryheid bedreig. Wanneer dit gebeur, moet ons [as joernaliste] gereed staan by die “versperrings” (barricades), gereed om te verdedig, want ons moet altyd weet dat die bedreigings dalk sal kom”.
Tsedu sê ook dat joernalistiek se eerste doel altyd sal wees om mense in te lig, ongeag hoe die media-landskap verander.
“Dit gaan daaroor om die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar te identifiseer, en om dan ʼn manier te vind om mense te bemagtig om iets daaromtrent te doen”.