’n Vermeende inbreker is vroeër vandeesmaand in La Collineweg in Stellenbosch doodgeskiet nadat hy na bewering in die vroeë oggendure met ’n huisbraak besig was. Die voorval is deur kaptein Nathalie Martin, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Stellenbosch-tak bevestig.
Martin het by navraag gesê die omstandighede rakende die voorval word ondersoek. “Volgens die verslae is die slagoffer deur ’n man en vrou omstreeks 04:15 agternagesit wat alarm gemaak het dat daar by hul huis ingebreek is. Daar is op hom geskiet en hy het op die toneel gesterf,” het sy gesê.
Die gebou in Dan Pienaarweg waar die 55-jarige man na bewering ingebreek het, behoort na verneem word aan die munisipaliteit van Stellenbosch. FOTO: Nazley Wilschutt
’n 50-jarige man is ongeveer 14:30 op dieselfde dag in hegtenis geneem en het op 23 Februarie in die landdroshof op Stellenbosch verskyn waar hy aangekla is van moord. Volgens landdros Alta Theart het die beskuldigde nog nie gepleit nie. Borgtog van R1 000 is aan die beskuldigde toegestaan en die saak is tot 4 Mei uitgestel.
’n Ooggetuie wat anoniem wou bly, woon naby die misdaadtoneel en het aan MatieMedia gesê dat sy omstreeks 4:05 op die Maandagoggend wakker geword van ’n aantal skote. “Ek het deur my venster geloer, maar het niks gesien nie,” het sy gesê.
Só lyk La Collineweg waar die lyk van die vermeende inbreker Maandag gelê het. FOTO: Nazley Wilschutt
Dié bron het ook gesê dat ’n gedeelte van die straat teen 05:45 afgesper was, en dat polisiebeamptes op die toneel was.
Anne Tarr, die hoof van Laerskool A.F. Louw, het gesê sy is vroeg deur ’n lid van die La Colline-gemeenskap van die voorval ingelig. Dié skool is naby aan die misdaadtoneel.
Die speelgrond van die graad-R leerders van A.F. Louw Primêre Skool is enkele meters van waar die lyk in die straat gelê het. FOTO: Nazley Wilschutt
“Ons het die hek aan die agterkant van die skool oopgemaak en ouers per WhatsApp ingelig dat alle leerders daardie hek in plaas van die voorste hek moet gebruik,” het Tarr gesê. “Personeellede is by albei hekke aan diens geplaas om te verseker dat leerders wat nie die boodskap ontvang het nie, en steeds die hek aan die voorkant gebruik, direk na die skoolterrein geneem word.”
Volgens Tarr het die skooldag normaal voortgegaan. “Die lyk was reeds verwyder voordat die graad R-leerders na hul speelgrond, wat aan La Collineweg grens, gegaan het,” het sy gesê. Die naasbestaandes van die aangeklaagde wou nie ten tyde van MatieMedia se besoek kommentaar lewer nie.