Koek en tert, ’n toneelstuk wat deur dramastudente geskryf is, se regie is ook deur die studente behartig en deur hierdie studente opgevoer – en ’n mens kan dit voel.
Soos wat die gehoor op Vrydag 1 Maart, die eerste dag van die Woordfees, instap by die Adam Small Laboratorium sien hulle ’n verhoog wat feitlik leeg is, behalwe vir die rak met klere en twee stoele. In die middel sit twee akteurs op die vloer, een man en een vrou, met hul rûe na die verhoog en hul koppe wat rus op mekaar.
In die gehoor sit ’n ouer paartjie met hul koppe identies op mekaar en rus. Hulle lag stil-stil vir hulself, wat die jonger mense namaak.
’n Mens kan nie help om te wonder of hulle steeds voel dat hulle soos die jonges is nie wanneer die toneelstuk begin met ’n fisiese optrede wat by tye emosioneel en by tye suggestief is. Kort daarna begin een van die aktrises, die “tert” van die titel, vertel hoe baie mans sy al mee “afgehaak” het.
Die ander aktrise, die “koek” van die titel, karakteriseer haarself onmiddellik as die teenpool van die tert, want sy wil nie hê haar familie moet uitvind hoe sy haar man in ’n kuierplek ontmoet het nie.
Die toneelstuk vorder flink en albei die aktrises lewer met die regte stemtoon hul snaakse kwinkslae. Een van die gehoor se gunsteling oomblikke was toe die tert verduidelik ten opsigte van standaarde dat: “’n Mens trek die lyn êrens, maar die lyn word in die sand getrek en soms word jy die volgende oggend wakker en dit was hoogwater.”
Die monoloë en dialoë word afgewissel met variasies op die fisiese optrede van die begin. Die subtiele verandering van die optrede met ’n glimlag, of sonder ’n dansmaat, verander die gevoelswaarde totaal.
Alhoewel die toneelstuk vol moderne verwysings is, soos Tinder, K-Way baadjies en selfs Prof. Love, wat ’n Youtube-kundige oor soen is, voel die einde veel meer universeel. Albei die karakters word gekonfronteer met dieselfde gevoelens en die vraag van waarom hulle doen wat hulle doen.
Dit is nie per ongeluk dat die toneelstuk eindig met die twee karakters wat albei kompleks voorgestel word nie. Kristin Pienaar (21), die regisseur en mede-skrywer van die toneelstuk, verduidelik dat hulle nie wou wys dat die een kant reg is en die ander kant verkeerd is nie. Margo Kotze (21), haar mede-skrywer en die aktrise wat die rol van die tert vertolk, beaam dit deur te sê: “Wees wat jou hart begeer.”
Pienaar sê sy het die toneelstuk geskryf omdat sy sien dat mense probeer vasklou aan ’n sekere “boksie” wat sy voel ongegronde is, want: “Wat is ’n koek en wat is ’n tert?”
Elmé Oosthuizen (22), die aktrise wat die koek speel, verduidelik dat mense aanpas waar hulle op die spektrum val volgens die mense saam met wie hulle is. Oosthuizen meen: “Ons is so bang om nie te voel soos iemand anders nie.”
Alhoewel die toneelstuk volgens Pienaar fokus op die subjektiewe storie van ’n Afrikaanse meisie in Stellenbosch, is daar tog oorkoepelende temas.
Devonecia Swartz (21), die fisiese aktrise en die aktrise wat Prof. Love vertolk, vertel dat sy al dieselfde gesprekke met haar Engelse en Afrikaanse vriende gehad het.
Andahr Cotton (22), die fisiese akteur, brei uit dat alhoewel hy dink dat die spesifieke stories nie van toepassing is op mans nie, hy wel aanklank kan vind by die tema van stereotipes.
Cotton sê: “Ek dink daar is ouens wat dalk uitgaan en ’n trouvrou soek.” Onmiddelik beaam al sy mede-akteurs dit met uitroepe soos “beslis” en “definitief”.
Koek en tert wys op 5 Maart weer by die Adam Small Laboratorium.