Die begin van Maartmaand gaan gewoonlik gepaard met seisoenale verandering in die Suidelike Halfrond, maar verskoon tog die Kapenaars wat duidelik nie die memorandum gekry het nie.
Die jaarlikse Huawei KDay Musiekfees het die talente van die top-kunstenaars in die land ten toon gestel, wat feesgangers in ’n vrolike somer-atmosfeer geplaas het. KDay het op Saterdag, 3 Maart 2018 plaasgevind op Meerendal Wynplaas in Durbanville. Dié jaarlikse musiekfees het duisende feesgangers, jonk en oud, van regoor die Wes-Kaap gelok.
Van die grootste name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf het die verhoog gedeel, insluitend Paxton, Matthew Mole, Timo ODV, Gangs of Ballet, Jimmy Nevis, Shekinah, Locnville, Freshlyground en vele meer.
Die gewildste kunstenaars was ongetwyfeld Youngsta CPT en Mi Casa. Eersgenoemde het sy opvoering afgeskop met ’n nostalgiese herinnering aan sy eerste KDay-ervaring as 7-jarige seun met sy pa wat intussen oorlede is. Dié self-aangewysde “beste rapper in die Wes-Kaap” het die gehoor op hul voete gehad met bekende liedjies soos We go bos, Salutas en Yasis. Mi Casa, aan die ander kant, het feesgangers laat juig met ’n kombinasie van opwindende danspassies en ’n verskeidenheid musiekinstrumente. Hoofsanger, J-Something, het hul opvoering afgesluit deur te sê hy bid dat God die “pragtige provinsie sal seën met reënval” in die tydperk van droogte.
Daar was gemengde gevoelens onder feesgangers oor die kletsrymer AKA. Sommige van die feesgangers wens sy opvoering kon langer aangehou het, terwyl ander ontevrede was met die kunsmatige manipulering van sy stem tydens die optrede.
KDay was ’n feestelike geleentheid gevul met musiek, dans en vriende wat Kapenaars nie sommer sal vergeet nie.
Kyk hoe Mi Casa mense se voete laat jeuk:
Video: Ross Michaels