Nog twee vertonings van die sketskomedie Die Intermissie is op die program van die Woordfees bygevoeg na die sukses van die produksie. Die Intermissie is ’n produksie wat elke lagspier in die Drostdy-teater laat oefen het. Regisseur Bennie Fourie en vervaardiger Scharl van der Merwe het nie teleurgestel met hierdie produksie nie.
Schalk Bezuidenhout, Mila Guy, Beer Adriaanse, Bouwer Bosch, Bennie Fourie en Barbara Brasington verteenwoordig karakters wat deur die verloop van die vertoning verander. Al die akteurs het ook as skrywers gedien vir die skerpsinnige produksie. Wesley van der Westhuizen was verantwoordelik vir die klavier en ander byklanke gedurende die vertoning. Hy het op die klawerbord gespeel, met sy skootrekenaar byderhand.
Volgens een van Bezuidenhout se karakters was vandag se samelewing, en veral dit wat “mense nie meer mag sê nie” die goue draad in die stories.
Die produksie het meestal bestaan uit flitstonele. Daar was twee storielyne wat meer as een keer sy verskyning gemaak het, maar verder het elke flitstoneel as sy eie kortverhaal gedien.
Die Suidlanders was een van die herhalende storielyne. “Wie mag? Die Boeremag!” is ’n reël wat die gehoor laat skater het. Die tweede storielyn, wat meer as een keer sy verskyning gemaak het, is ’n parodie op studenteteater. “Wakker” word gereeld deur die vertoning geadverteer en as slotsom wen die produksie die toekenning vir die beste produksie by die Woordfees. Dit was meestal jonger mense wat vir die “Wakker”-sketse gelag het, aangesien hulle moontlik bekend is met hoe stereotipiese dramastudente optree.
Daar is gereeld van musiek gebruik gemaak en dit was baie gepas vir die vertoning. Al die akteurs het ook gesing. Aan die begin het Brasington egter effens vals gesing, asook sag. Guy se stem het beslis uitgestaan as een van die bestes. Daar was ’n entoesiastiese applous na sy die laaste note voltooi het.
Die stel was eenvoudig met twee deure aan weerskante van die verhoog, ’n venster in die middel en ses stoele. Die akteurs het goed uitgewerkte passasies gehad wat die skuif van die stoele behels het. Die eenvoudige stel was dus goed uitgewerk en benut.
Daar was tonele waar piesangs as gewere gedien het. By hierdie tonele was die gehoor ook betrokke, waar iemand uit die gehoor gekies is om haar verskyning op die verhoog te maak. Die vrou, ene Heleen, het haar baie goed van haar taak gekwyt. Die akteurs het beslis beïndruk met hul improvisasie by hierdie tonele.
Eenvoudige kostuums is gebruik. Al die akteurs het netjiese klere gedra, in skakerings van swart en donker blou. Met spesifieke karakters is sonbrille of halssnoere bygevoeg. Die drag was goed beplan en het die produksie goed ondersteun. Die helder kleure van die stel was gepas in samewerking met die donker skakerings van die kleredrag.