20/20 – met ’n kelkie was ’n fees vir beide die oor én oog. Die betrokkenes kan hulself ’n klop op die skouer gee vir ’n produksie wat glad verloop het, maar waar was die kelkie?
Jammer dat die kelkie-kwessie nou eerste aandag kry, maar dit is tog belangrik dat produksies hulle beloftes nakom. Wanneer “met ’n kelkie” in die naam staan en die programbeskrywing dit beaam met “ ’n skietkelkie voor die tyd”, is meeste gehoorlede se verwagting dat hulle met ’n kelkie in die hand gaan staan.
Soms val dinge deur die mat – en mens verstaan dit – maar miskien as die gehoor daaroor ingelig was, sou daar nie soveel verwarring gewees het nie. Gelukkig het die Drostdy-teater ’n kontantkroeg, so Vrydagaand was dit net die studente (en resensente) sonder sente wat droëbek was.
Kelkie-kwessie daar gelaat, dit is die tweede jaar wat só ’n poësie-produksie by die Woordfees plaasvind. Dit is ook verblydend om te sien hoe dit gegroei het binne een jaar. Verlede jaar het sewe digters opgetree en die tema was “slegte seks en gin” en vanjaar het dit gegroei tot 20 digters. Die gekose 20 was divers en die verskille in onder meer ouderdom en agtergrond het gesorg vir ’n verskeidenheid temas en onderwerpe in hul gedigte.
Vir die aand is elke digter gevra om ’n skildery te kies, dit te interpreteer en uiteindelik ’n gedig te skryf. Die toepaslike skilderye is op ’n groot skerm vertoon terwyl die digters hul gedigte een vir een voorgelees het.
Vir sommige (die uwe inkluis) was die verwagting miskien dat daar slegs “suiwer” ekfrastiese poësie voorgelees gaan word, maar dit was nie die geval nie. By heelwat digters was die klem nie op ekfrasis nie en sommige digters het die skilderye as nagedagte gebruik of die skilderye op indirekte wyse in hulle gedigte betrek.
Die digters het ’n verskeidenheid skilderye uit verskillende tydperke en style gekies. Sommige het effens van die opdrag afgewyk en nie ’n skildery as inspirasie gekies nie. Een voorbeeld hiervan was Martina Klopper wat “White Gauze”, ’n foto van Robert Mapplethorpe, gebruik het.
Sommige digters het ook relatief onbekende werke of kunstenaars gekies, soos Marcel Spaumer wat ’n “kitsch skildery wat in [sy] ouma-hulle se huis hang” gekies het. Lynthia Julius het ’n rotstekening gekies. ’n Groot tragedie volgens haar is dat “ons nooit sal weet wie dit gemaak het nie”. Die keuse het ook mooi by haar gedig aangesluit wat onder meer gehandel het oor kulturele verlies en wat verlore gaan as taal, in haar geval Nama, nie oorgedra word van een generasie tot ’n volgende nie.
Ashwin Arendse het groot toejuiging ontvang vir sy humoristiese maar ook ontstellende gedig oor ’n ou vrou wat in ’n straatbakleiery betrokke raak. ’n P-bom werk goed om mense aan die lag te kry – doelbewus of nie.
Ander digters wat uitgestaan het vir die unieke humor wat hulle na die podium toe gebring het, was Franco Bassi en Fourie Botha. Bassi is vir die kollig gemaak en al was sy milleniër-liefdesgedig aan die ernstiger kant, was sy kommentaar voor en na die gedig skreeusnaaks.
Botha het “The new farmer and his wife” deur Richard Mudariki, ’n riff op “American Gothic”, gekies as inspirasie en sy gedig was vlymskerp en spottend net soos wat die skildery satiries is.
Bibi Slippers het die aand afgesluit en sy het Rafaël se “Jong vrou wat ’n eenhoring vashou” gekies as inspirasie. Van al die gedigte wat beskou kan word as “suiwer” ekfrasties, was hierdie een ’n hoogtepunt. Haar beskrywing van die jong vrou was vars en in die kol.
20/20 – met ’n kelkie was ’n heerlike affêre en feesgangers wat dit vanjaar misgeloop het, moet seker maak hulle kry hul kaartjies betyds vir volgende jaar. Die organiseerders moet net seker maak dat die kelkies daar sal wees.