Dit sal moeilik wees om ’n Suid-Afrikaanse huis te vind waarin daar nie iewers ’n kleurvolle boks met borde, kaartjies en dobbelstene wegkruip nie. Danksy bordspeletjies se tasbaarheid en geselligheid kan hierdie klassieke stokperdjie steeds kers vashou by vandag se digitale vermaak. Met ’n tema en ’n strategie vir elke speelstyl, is die wêreld van bordspeletjies egter veel wyer en dieper as wat die meeste mense vermoed.
Die bordspeletjiebedryf is een van enkeles wat ’n stryd om oorlewing gespaar is tydens die Covid-19-pandemie.
“Dis baie interessant,” vertel Anke Deyzel, een van drie eienaars en direkteurs van The Big Box-bordspeletjiemaatskappy. “Verkope het meer geraak.” Inteendeel, verkope het nie net meer geraak nie; dit het gefloreer. The Guardian het in April 2020 berig dat die verkope van bordspeletjies en legkaarte in die eerste week van die Verenigde Koninkryk se inperking met ongeveer 240% gestyg het – ’n verskynsel wat grootliks die wêreldwye tendens in daardie stadium weerspieël het.
Die kultuur rondom bordspeletjies in Suid-Afrika is veral gefokus rondom partytjiespeletjies wat tipies maklik is om te verstaan en ’n element van humor bevat, volgens Anke Deyzel – een van drie eienaars van The Big Box-bordspeletjiemaatskappy. FOTO: Anri Matthee
Deyzel en haar vennote het The Big Box – wat in 2015 gestig is – omtrent ’n maand gelede oorgekoop, nadat die Kaapse maatskappy tydens die inperking sy bekende bordspeletjiekafee se deure moes sluit. Nou word die onderneming vanuit Hermanus bestuur as ’n speletjievervaardiger en nasionale aanlyn winkel.
“Ons is absoluut verslaaf aan bordspeletjies,” sê Deyzel met ’n glimlag. “Produktoetsing is ’n groot deel van ons werk.”
’n Soort vir elke smaak
Dis belangrik om tussen die tipes bordspeletjies te onderskei, omdat verskillende eienskappe tot spelers se unieke belangstellings spreek. Die algemeenste tipe bordspeletjie is die sosiale partytjiespeletjies wat gewoonlik in groepe gespeel word. Hierdie speletjies moet maklik wees om te verstaan, en bevat dikwels ’n element van humor, volgens Deyzel.
Daarteenoor, is daar ook langer, strategie-gebaseerde speletjies. Dis meestal hierdie soort speletjies wat by die byeenkomste van die Guild – die Universiteit Stellenbosch se studentevereniging vir bord-, kaart- en tafelspeletjies – gespeel word. Die vereniging is al vir sewe jaar aktief en het aanvanklik slegs vyf lede gehad, verduidelik Daniela Schnabel, die vereniging se 2021-voorsitter. Die Guild het sedertdien gegroei tot ’n vereniging wat net voor die pandemie twee byeenkomste per week met 15 tot 20 spelers elk gehad het.
Die Guild – die Universiteit Stellenbosch se studentevereniging vir bord-, kaart- en tafelspeletjies – hou sedert die derde kwartaal van 2021 weer weeklikse byeenkomste ná die inperking hul aktiwiteite beperk het. FOTO: Anri Matthee
“Die grootste wanpersepsie wat ek in my ervaring met mense beleef, is dat mense dink bordspeletjies is uiters beperk.” meen Francois van der Merwe, die Guild se 2022-voorsitter, wat verduidelik dat Monopoly en Scrabble op die winkelrakke net die oortjies van die seekoei is. “Daar is genoeg verskeidenheid om elke moontlike genre en speelstyl te bevredig. Die Guild self besit ook skaars ’n breukdeel van wat daar is om te speel.”
Die Guild se omvattende versameling maak speletjies ook meer toeganklik, omdat bordspeletjies tussen R500 en R1 500 elk kan kos, afhangende van die produk se skaarsheid, volgens die Guild-lid, Jean-Luc Nel. Dít verduidelik ook waarom strategiebordspeletjies nog nie so gewild is in Suid-Afrika nie. “Dis beslis ’n groeiende stokperdjie, want dit versprei deur word of mouth,” sê Nel.
Hoe val die dobbelsteen in Suid-Afrika?
Alhoewel strategie-speletjies nog ’n nisbelangstelling op eie bodem is, is die kultuur vir sosiale speletjies in Suid-Afrika “baie groot”, volgens Deyzel. Sy verduidelik dat die woord “board game” ongeveer 6 000 keer per maand op Google gesoek word in Suid-Afrika.
“Ek vind dat Suid-Afrikaners meer hou van partytjiespeletjies – speletjies wat maklik verstaanbare reëls het, pret verskaf en nie te lank duur nie,” sê Calie Esterhuyse, die uitvinder van die ikoniese plaaslike bordspel, 30 Seconds. “Alhoewel partytjiespeletjies ook gewild is in, byvoorbeeld, Noord-Europese lande, is strategiese bordspeletjies met ingewikkelde reëls en ’n lang speelduurte ook baie gewild daar.”
Die bordspeletjie 30 Seconds is oorspronklik ’n Suid-Afrikaanse uitvindsel. Calie Esterhuyse se gewilde bordspeletjie is al sedert 1998 op die mark en kan deesdae ook internasionaal gekoop word. FOTO: Anri Matthee
Esterhuyse se idee vir 30 Seconds het ontstaan by ’n speletjie wat hy tydens partytjies met vriende gespeel het. Die bordspel het in 1998 vir die eerste keer kommersieel verskyn en is vandag ’n suksesvolle uitvoerproduk wat in die VSA, Australië en verskeie Europese lande beskikbaar is. Plaaslik het die bordspel kultusstatus bereik as testament van Suid-Afrikaners se voorliefde vir speletjies wat geselligheid en vermaak vooropstel.
“Ek dink nie dat daar werklik ’n verandering in die kultuur rondom bordspeletjies [sedert 1998] was nie,” sê Esterhuyse via e-pos aan MatieMedia. “In my opinie het die [plaaslike] bordspelmark wel gegroei.”
Deyzel verduidelik dat Suid-Afrikaners nie net graag bordspeletjies speel nie, maar ook ywerige bordspelontwerpers is. Dit lyk of daar ’n “groot kultuur” hiervan bestaan, aangesien sy verbaas is deur die hoeveelheid mense wat hul eie speletjies wil ontwikkel. “As ek vir jou sê ons het al tien navrae gekry in die laaste twee weke, dan oordryf ek nie,” sê sy.
Die nuwe projek waarop Deyzel eerste wil fokus is voorgestel deur ’n vrou wie se kind op die outistiese spektrum is. “Sy het kaartjies en ’n speletjie ontwikkel om die kind te help met huiswerk, en sy wil dit nou in massa produseer om ander ouers te help.”
Shuaib Parker, Francois van der Merwe, Kris Lovric en Cohen Pheiffer geniet mekaar se geselskap tydens ’n rondte van Discworld by ’n byeenkoms van die Guild – die Universiteit Stellenbosch se studentevereniging vir bord-, kaart- en tafelspeletjies. FOTO: Anri Matthee
Speel jouself slim
Die meeste mense beskou bordspeletjies net as ’n stokperdjie, maar dit kan ’n beduidende invloed hê op hoe jou brein werk.
“Ek dink mense wat hulle neuse vir bordspeletjies optrek besef nie die waarde wat bordspeletjies bied nie. Bordspeletjies kan intellektueel stimuleer, maak dat mense mekaar beter leer ken, mense bymekaar bring [en] opwinding en pret verskaf,” meen Esterhuyse – wat oor e-pos die raad deel: “Moenie met iemand trou voordat jy hulle sien 30 Seconds speel het nie.”
Bordspeletjies stimuleer die dele van die brein wat verantwoordelik is vir geheueformasie en komplekse denke, en kan kognitiewe vermoëns soos besluitneming verbeter, volgens Buck’s County Free Library. Deyzel meen ook dat sy ná ’n paar maande van bordspeletjies speel tydens die inperking kon agterkom dat haar strategiese denke en probleemoplossing verbeter het. “Dis snaaks hoe ’n mens dit begin agterkom,” sê sy. “Jou brein raak letterlik fiks.”
Daar is ook unieke voordele vir kinders, omdat hulle deur spel kan leer om reëls te volg, in ’n groep te werk en teleurstelling te hanteer. Dit is dus belangrik dat ouers toesig hou en saamspeel om ’n goeie voorbeeld te stel wat kinders kan volg, verduidelik Deyzel.
’n Klassieke ding
Die sosiale waarde van bordspeletjies as ’n ysbreker, gelykmaker en atmosfeerligter kan nie onderskat word nie. Ook in volwasse geselskap kan bordspeletjies verhoudings help smee en ontwikkel, omdat mense gemaklik word en teenoor mekaar oopmaak, volgens Deyzel.
Anke Deyzel – een van drie eienaars van The Big Box-bordspeletjiemaatskappy – gebruik bordspeletjies in haar restaurante, Lemonicious en The Sky Bar, om interaksie tussen kliënte aan te moedig. “Partykeer sien ek ’n paartjie daar sit, dan sit en staar hulle vir hulle fone,” sê sy. “Dan sit ek ’n speletjie neer, en ewe skielik is hulle net meer interaktief met mekaar.” FOTO: Verskaf/Anke Deyzel
Deyzel se restaurante in Hermanus, Lemonicious en The Sky Bar, het ook onlangs in bordspeletjie-bestemmings ontpop om vir kliënte ’n unieke besoekerservaring te verseker. “Partykeer sien ek ’n paartjie daar sit, dan sit en staar hulle vir hulle fone,” sê sy. “Dan sit ek ’n speletjie neer, en ewe skielik is hulle net meer interaktief met mekaar.”
Die kameraadskap tussen spelers is ook ’n groot bydraende faktor tot die volgehoue sukses van die bordspeletjiebedryf. “Die lekkerste deel sal definitief die geskerts wees tussen mense,” sê Van der Merwe. “Dis lekker om net by enige groep te kan inval en nie die spel te ernstig op te neem nie terwyl daar gegrap en lekker geklets word, meestal sommer net oor ditjies en datjies.”
’n Groot trekpleister vir die byeenkomste van die Guild – die Universiteit Stellenbosch se studentevereniging vir bord-, kaart- en tafelspeletjies – is die geselligheid en samesyn wat spelers geniet. “Die lekkerste deel sal definitief die geskerts wees tussen mense,” sê Francois van der Merwe, die Guild se voorsitter vir 2022. FOTO: Anri Matthee
Bordspeletjies is steeds gewild onder spelers van alle generasies, omdat vars speletjies voortdurend ontwikkel word. Die tasbaarheid, interaksie en nostalgie wat met bordspeletjies gepaard gaan is vir mense baie belangrik, meen Deyzel.
“Baie mense dink dis uitgedateer, dis oud, maar dis ’n klassieke ding,” sê sy. “Dit sal nie sommer verdwyn nie. Dis ’n ding wat families om ’n tafel laat sit – lag, gesels, vriende.”