Die Stellenbosch Verkeersdepartement merk jaarliks ’n toename op in die oortreding van nasionale en munisipale padreëls in Stellenbosch deur fiets- en skaatsplankryers.
Dit is volgens Hermien Swanepoel, die superintendent van dié departement.
Die situasie is van so ’n aard dat dit nie “onder beheer kan kom” nie, het sy gesê. Om dit te verander, sal verkeersbeamptes gereeld moet toesien dat fiets- en skaatsplankryers die padreëls nakom, meen sy.
Daar is in die laaste jaar geen ongelukke tussen fiets- en skaatsplankryers en motors by die Stellenbosch-tak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld nie. Dit is volgens sers. Jason Rhoda by die sosiale misdaadvoorkomingseenheid van dié tak.
Fiets- en skaatsplankry is egter ’n “groot” probleem in die dorp, meen Swanepoel.
Hoewel verkeersbeamptes fiets- en skaatsplankryers aanspreek, is dit vir hulle moeilik om boetes aan hulle op te lê, omdat hulle wegry wanneer hulle aangekeer word, het Swanepoel aan MatieMedia gesê.
Die wet op fietsry
Wanneer daar ’n fietsrybaan op ’n nasionale pad is, mag fietsryers slegs daarin ry, luidens die Nasionale Padverkeerswet, art. 93 van 1996.
Daar word onderskei tussen openbare paaie en sypaadjies in art. 93 van 1996 van die Nasionale Padverkeerswet, het Hermien Swanepoel, superintendent van die Stellenbosch Verkeersdepartement, verduidelik. Openbare paaie is enige pad, straat of deurpad wat deur die publiek gebruik word, terwyl sypaadjies slegs vir voetgangers se gebruik is, luidens dié artikel. FOTO: Jana Scheepers
As daar nie ’n fietsrybaan is nie, moet fietsryers so na as moontlik aan die linkerkant van ’n pad ry, luidens die Nasionale Padverkeerswet.
“Die padverkeerswet verduidelik ook dat fietsryers nie op sypaadjies mag ry nie, en hulle word aangekla daarvoor,” het Swanepoel gesê.
Indien fietsryers dié reël in Stellenbosch oortree, mag die verkeersdepartement hul fietse in beslag neem. Dít, volgens Swanepoel, is om hul identiteite te kry om ’n boete aan hulle te kan oplê.
Skaatsplankry in Stellenbosch: Die reëls
Volgens Stellenbosch Munisipaliteit se dorpswette van 2021, mag skaatsplankryers geensins in openbare plekke – buiten ’n toegewysde skaatsplankbaan – ry nie.
Die Stellenbosch Verkeersdepartement moet skaatsplankryers beboet as hulle in openbare plekke ry wat nie vir skaatsplanke toegewys is nie, volgens Hermien Swanepoel, die superintendent van dié departement. FOTO: Jana Scheepers
“Die Nasionale Padverkeerswet […] noem glad nie enigiets in verband met skaatsplanke nie,” het Swanepoel gesê. “Ons dorpswette is die enigste ding wat ons kan gebruik om [skaatsplankryers] vas te vat.”
Verder mag niemand iets in ’n openbare plek doen wat die publiek in gevaar kan stel nie, volgens die dorpswette. Swanepoel meen dat die gebruik van skaatsplanke as vervoermiddel ’n gevaar vir die publiek inhou, en dat skaatsplankryers dus daarvoor ook boetes opgelê sou kon word.
Jack Linney, ’n skaatsplankryer en tweedejaar-student aan die Instituut van Bemarkingsbestuur, meen egter dat daar nie genoeg plek in die dorp vir skaatsplankry toegewys is nie.
“Die dorpswette maak sin – geen persoon moet ’n lewe of die veiligheid van iemand anders in gevaar stel nie… Ek verstaan dit,” het Linney gesê. “Skaatsplankry is raserig en kan eiendom beskadig, maar ek dink nie [boetes] is die regte benadering nie.” Hy meen dat meer plek vir skaatsplankry toegewys moet word.
Hermien Swanepoel, superintendent van die Stellenbosch Verkeersdepartement, verduidelik Stellenbosch se dorpswette wat betref skaatsplankry. STEMOPNAME: Verskaf/Hermien Swanepoel