Eikestad dalk binnekort sonder eike

’n Klein kewer is besig om groot skade aan bome regoor die land aan te rig. Die kewer is nog nie in Stellenbosch of in Kaapstad gevind nie, maar indien dit in hierdie gebied aangetref word, kan Stellenbosch se bome ook in die kewer se visier wees. Die polifaag-skietgatboorder, in Engels die polyphagous shot hole borer (PSHB), boor gate in ’n boom se binnekant en versprei dan ’n swam, Fusarium euwallaceae, wat die boom kan laat vrek.

Die polifaag-skietgatboorder van naby beskou. FOTO: FABI / S. Bush

Die polifaag-skietgatboorder van naby beskou. FOTO: FABI / S. Bush

Dit is in 2017 vir die eerste keer in Suid-Afrika in Pietermaritzburg opgemerk en sedertdien is die kewer al in Durban, Johannesburg, Bloemfontein, Hartswater en George gewaar.

“My voorspelling is dat dit ’n kwessie van tyd is voor die kewer in die Skiereiland gaan aankom,” sê prof. Wilhelm de Beer, verbonde aan die Universiteit van Pretoria se instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (FABI). Hy voorspel ook dat die Boland se landskap baie anders gaan wees oor vyf tot tien jaar wat bome betref. “Baie van die bome gaan net nie meer [hier] wees nie,” sê hy.

De Beer beklemtoon egter dat nie alle bome uitgewis gaan word nie, maar bome wat reeds onder druk is, is die kwesbaarste. Gesonde bome is minder vatbaar vir die kewer. Bome kan om verskeie redes onder druk wees, soos byvoorbeeld, swamme of die onlangse droogte. Veral in stedelike gebiede waar bome dikwels langs strate of op sypaadjies groei, is die grond rondom die bome gekompakteer. Dit is nie optimaal vir die bome se groei nie. Hiervan is die eikebome op Stellenbosch ’n gepaste voorbeeld.

Te danke aan navorsing word daar nou bepaal watter bome die vatbaarste vir die kewer is. Al is dit nog te vroeg om met sekerheid te sê, beweer Elmar van Rooyen, ’n Matie en MSc-student in bewaringsekologie, dat uitheemse bome, soos eike en platane – wat volop in Stellenbosch is – die swaarste getref word.

Die kewer is afkomstig uit Suidoos-Asië en het al groot skade aan bome in ander wêrelddele, soos Israel en Kalifornië, aangerig. “Bome hier het nie weerstand teen die kewer nie, want hulle het nie saam met die kewer evolueer [en weerstand ontwikkel] nie,” verduidelik Van Rooyen.

Die binnekant van ’n eikeboom wat deur die polifaag-skietgatboorder en swam besmet is. FOTO: FABI

Die binnekant van ’n eikeboom wat deur die polifaag-skietgatboorder en swam besmet is. FOTO: FABI

Dit is as gevolg van menslike aktiwiteite dat die kewer so vinnig en ver versprei. De Beer sê die kewer het vermoedelik deur middel van palette of ander lae kwaliteit hout die land binnegekom.

Mense wat hout vervoer, soos braaihout, dra by tot die kewer se verspreiding. “Hulle weet nie die kewer is binne [die hout] nie en dan verskuif [hulle] die hout én die kewer,” verduidelik Van Rooyen.

Met ’n lengte van ongeveer 2 mm is die kewer piepklein en moeilik om op te merk. Verder boor die kewer tot diep binne-in die boom en die skade is nie altyd onmiddellik sigbaar nie. “Die probleem is, as dit só klein is, gaan jy dit nie sommer sien nie. Eers as dit ’n probleem is [gaan jy dit sien] en dan is dit te laat,” sê Van Rooyen.

“In sekere bome teel die kewer aan en in sekere bome teel hy nie aan nie. Maar die bome waarin die kewer aanteel is ’n probleem vir die omgewing, so daardie bome moet verwyder word,” sê De Beer.

Van Rooyen verduidelik om ou bome te vervang deur net nuwe bome te plant, gaan ook nie die probleem oplos nie, want “hulle val nog steeds die nuwe bome ook aan”. Die beste ding om met ’n groot boom wat klaar geïnfekteer is, te doen, is om dit af te kap en die hout uit te brand. “Dit is maar hartseer,” meen Van Rooyen.

Maar wat van insek- of swamdoders? “Daar is nog nie genoegsame bewyse in Suid-Afrika dat die chemiese middels rêrig ’n impak het of oplossing is nie. Daar is chemiese middels wat in die boom gespuit kan word, maar dit is baie duur en die behandeling moet herhaal word. Op groot skaal, en veral vir munisipaliteite, is dit nie rêrig ’n haalbare opsie nie,” sê De Beer.

Chemiese middels hou ook ander nadele in. “Chemiese middels gaan tot in die stuifmeel en dit kan bestuiwers soos bye doodmaak, so mens moet baie versigtig wees met die goed,” waarsku De Beer.

DSC_6442

’n Eikeboom voor die Ou Hoofgebou op Stellenbosch. FOTO: SZ Minnaar

Van Rooyen meen chemiese middels is dalk ’n oplossing vir ’n boom met groot erfeniswaarde, maar dit is ook nie ideaal nie. In Stellenbosch het sommige bome erfenisstatus. Die eikebome in Dorpstraat en in Die Laan is al in 1950 as provinsiale erfenis verklaar en nog eikebome in Stellenbosch is later as erfenis verklaar.

Volgens Albert van der Merwe, senior bestuurder van gemeenskapsdienste van Stellenbosch-munisipaliteit, is geen amptelike gevalle van die polifaag-skietgatboorder by die munisipaliteit aangemeld nie. Die Stellenbosch-munisipaliteit is besig om te werk aan ’n bewusmakingsveldtog oor die kewer, maar Van der Merwe “hoop nie ons kom daar uit nie”.

Indien die kewer ontdek word, moet dit so vinnig as moontlik aangemeld word. Dit kan aangemeld word by die Stellenbosch-munisipaliteit se noodnommer (021 808 8890) of by die Universiteit Stellenbosch se departemente bosbou en houtkunde (021 808 3323) of bewaringsekologie en entomologie (021 808 3304).