Toe Alwyn Uys (28), voormalige rugbyspeler aan die Universiteit Stellenbosch se eerste rugbyspan, daardie nag in sy kar klim om sy vriendin te gaan besoek, het hy nie besef dat dit die laaste keer sou wees wat hy sy bene sou kon gebruik nie.
Sy lewe het in ’n oogwink verander toe hy in Desember 2014 byna sy lewe in ’n motorongeluk verloor het.
Dit was ’n groot skok vir Uys om sy nuwe lewe in ’n rolstoel te aanvaar.
“Jy plaas jou identiteit in iets wat jy fisies kon doen omdat jy so mal is oor sport. Die oomblik wat iets gebeur en jy lê in ’n hospitaalbed en jy kan jouself nie eers omdraai nie, dan vra jy, maar wie is ek nou regtig? Want ek kan nie meer sport doen nie en gister kon ek alles doen,” sê Uys.
Vir Thys Grobler (28), ’n kleintydse vriend van Uys, was dit moeilik om hom te sien na die ongeluk.
“Om my vriend so te sien… hy was een van die aktiefste mense wat ek ken, hy het vir Maties rugby gespeel, hy was op pad Sharks-akademie toe. As ons gaan swem was hy die eerste ou wat ‘back flips’ doen,” sê Grobler.
“Jy doen maar jou bes om daar te wees vir so ’n persoon. Jy weet nie wat jy moet doen om die situasie vir hierdie vriend van jou beter te maak nie. Jy kan hom net soveel help.”
Volgens Robert Evans, doktorale student in biokinetika aan die Universiteit van Kaapstad, is depressie ’n algemene verskynsel onder atlete aan die begin van hul rehabilitasie.
“Aan die begin is dit moeilik. Amper elke pasiënt wat ek al gesien het glo vas dat hulle weer eendag sal loop en dis ’n soort hoop wat hul aan die gang hou,” sê Evans.
“Depressie is normaal in die vroeë stadium [namate hulle hul gestremdheid verwerk], maar dit moet goed bestuur word. Selfdood is waarskynlik die grootste oorsaak van dood na gelang van ’n rugmurgbesering en moet ernstig opgeneem word.”
Uys erken dat hy self in hierdie groef geval het.
“Ek was op die punt gewees waar ek vir myself gesê het ek sien nie kans vir hierdie toestand nie, ek gaan [my lewe] nou eindig. Hoekom het die Here my lewe nie daardie dag gevat nie?” sê Uys.
“Daarna het ek besef dat dít al gaan wees wat mense van my sal onthou. Ja, ek het goed sport gedoen en al hierdie mooi goedjies op skool, [maar] toe kom ek in ’n ongeluk, is ek verlam en ek kon dit nie hanteer nie.”
https://www.youtube.com/watch?v=B8WHL4DtLnc
VIDEO: Uys leef voluit wanneer hy fietsry. Bron: Alwyn Uys/Youtube
Uys het nietemin binne ’n jaar van sy ongeluk aan roei begin deelneem en het selfs twee keer die wêreldtoernooi gewen as deel van die Suid-Afrikaanse span. Dit was egter met die handfiets waar hy sy passie vir sport weer ontdek het en gevolglik uitgeblink het as die wenner van die Suid-Afrikaanse Paralimpiese fietsry-kompetisie vroeër vanjaar.
“Toe ek weer begin fiets ry het, het ek besef dat ek normaal voel. Hierdie rolstoel gaan oral saam met my, maar as ek in ’n fiets klim dan bly die rolstoel by die huis. Ek begin besef dat ek steeds baie kan doen; ek is nie hulpeloos nie.”
Dis juis hierdie deelname aan sport wat Uys in staat gestel het om sy gestremdheid te aanvaar, meen Evans.
“Sodra jy aan sport kan deelneem dan plaas jy jou gebrek op die verhoog vir almal om te sien. Wanneer jy eers dit kan doen dan dink ek jy het werklik jou gestremdheid aanvaar en jy is gemaklik met dit, want jy het geleer hoe om dit te hanteer en met dit te werk,” sê Evans.
Uys deel ook graag sy storie op verskillende sosiale media platforms. Hy hoop dat dit ’n positiewe impak op mense se lewe sal hê.
“Iets sleg het met my gebeur maar ek is so bly [dat] iets goed daar uit kan kom. Dis definitief ’n dryfkrag hoekom ek doen wat ek doen.”