Met drie dekades as professionele kunstenaar agter die rug, is Diek Grobler nog glad nie reg om sy rug op kuns te draai nie
In die ou Noordelike voorstede van Pretoria word stukkies papier noukeurig met ’n skalpel heen en weer geskuif. Op dié stukkies papier is die visuele roumateriaal vir ’n nuwe musiekproduksie.
“Dit gaan goed; self?” antwoord Diek Grobler terwyl hy aan sy jongste animasie-projek werk.
“As ek vloek in die agtergrond dan weet jy ek het ’n fout gemaak; gaan jy maar net aan,” sê hy.
“Ek kan kontraktueel nie meer oor die projek sê nie,” lag hy. Dit klink asof hy iets in die mou voer.
Hy beskryf homself as middeljarig. “Al lyk ek dit nie,” sê hy. Hy vermoed hy het ’n moontlike Peter Pan-kompleks en sy humorsin is “self-ironiserend.”
“Dit is egter nie ’n objektiewe opinie nie,” erken hy.
“Ek is nie altyd seker wat ek is nie,” sê hy. “Op die oomblik is ek ’n filmmaker.”
Sy broer, wat ook ’n kunstenaar is, wou al van die begin af ’n illustreerder wees, maar Diek Grobler “het soortvan die fine arts route gevolg.”
Die Grobler-broers het al van kleintyd af begin teken. Nog voor die koms van vonkpos. “Ons het nie vreeslik tekenboeke gehad nie,” sê hy. “Ons was baie bly as Pa groot stukke pos kry,” vertel hy nostalgies. “Ons het op al die koeverte geteken.”
Die tydskrifadvertensies waar teks ontbreek het, was ook ’n gunsteling onder die twee broers. “Ons het dan plek gehad om op te teken,” sê hy.
Die lyn kraak.
In matriek het hy egter tekenboeke (nèè handboeke) gehad. “Op hoërskool het ’n mens vir elke vak ’n handboek gekry,” sê hy. Hy het seker gemaak dat die blanko bladsye aan die einde van elke hoofstuk sy potloodafdruk bevat het. Dit was sy gunsteling skoolaktiwiteit
“’n Mens was egter veronderstel om dit elke jaar uit te vee,” sê hy.
“Diek! Diek! Ek het jou handboek gekry,” na-aap hy die “standerd ses of sewe kind” wat sy werk in ’n in ’n skoolhandboek herken het.
Sy werk word ook herken in ander boeke. ’n Oomblik wat vir hom uitstaan, is toe hy Mankepank en ander monsters, ’n kinderfiksie-versbundel deur Antjie Krog, moes illustreer.
Volgens hom is daar nog nooit so iets in Afrikaans gedoen nie.
Vir die Life Choices-jeugprogram se 30 Stories for 30 Days-projek moes hy egter sy illustrasie op ’n ander manier benader.
“Begin at the beginning, the King said, very gravely…”
“Ek het eers ’n klein bietjie stil gesit [nadat ek die storie gelees het],” sê hy. “Dit was redelik ontstellend.”
“Een van die redes hoekom ek aangebied het om deel te wees van die projek is omdat ek geroer is oor die wêreldwye vlugtelingkrisis,” sê hy. “Die storie het vir my weer eens laat besef hoe erg dit vir [die vlugtelinge] is.”
“Die storie is so grusaam dat ’n mens nie realistiese, konvensionele illustrasies daarvan kan maak nie,” sê hy. “Dit sal net té grusaam wees.”
“Die kulturele verwysing van die karakter is ook soveel anders as my eie,” sê hy. “Wanneer dit so is, raak dit gevaarlik, want sy het goed beleef wat ek nooit in my lewe sal beleef nie.”
Hy het dus die “essensie van die boodskap probeer vasvang in ’n beeld,” in plaas daarvan om die gebeurtenisse te illustreer.
Volgens hom het die karakter die veiligste gevoel tydens ’n bootvaart waar sy en ander vlugtelinge gevleg gelê het op soek na skuiling van ’n onstuimige see en hul eie land.
“Dit was ’n gevaarlike tog, maar sy het ’n positiewe uitkyk gehad,” sê hy. “Ek het daai twee elemente gevat en my illustrasie om dit gebou.”
Die boot is toe uitgebeeld in die vorm van ’n hart.
Stukkies papier word noukeurig met ’n skalpel heen en weer geskuif. Op dié stukkies papier is sy storie. Hy wil nie die “manager of the board” wees nie. Hy wil ook nie “dissipels” hê wat sy verf vir hom aandra nie.
“Laat ek dit só stel,” sê hy. “Ek is eenmaal gevra waar ek myself oor tien jaar sien.”
“Wel,” het hy geantwoord. “Ek sien myself steeds besig om te doen wat ek nou doen.”
“Dit vat baie ambisie van ’n kunstenaar om te kan aanhou doen wat vir hul lekker is,” sê hy. “I am pretty much happy with where I am.”
Hy sit in sy animasie-kamer, besig met ’n geheimsinnige animasieprent vir ’n musiekproduksie.
Hiér is hy op sy gelukkigste.
Hy groet.
Klik.
Hy het toe nooit gevloek nie. – Marius Boonzaier